OUDTSHOORN NUUS - Die polisie het Dinsdagoggend op dwelms met 'n geraamde waarde van R550 000 langs die N1 naby Beaufort-Wes beslag gelê.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die Sentraal-Karoo se honde-eenheid, omstreeks 08:45 'n padblokkade uitgevoer en 'n passasiersbus afgetrek.
"'n Soektog in die voertuig het gevolg waarna die lede 'n tas gevind het waarin
11 000 Mandrax-tablette gevind is. Die besending dwelms is positief verbind met 'n passasier wat vanaf Gauteng gereis het. Die 39-jarige man is daarna in hegtenis geneem op aanklag van handel in dwelms."
Die verdagte bly in aanhouding en het Woensdag 23 Augustus sy eerste hofverskyning in die Beaufort-Wes-landdroshof op aanklag van handel in dwelms gemaak.
Die Wes-Kaapse polisiebestuur het niks anders as lof gehad vir die pogings van die span wat tot die konfiskering van die vonds gelei het nie. Die provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Thembisile Patekile, het gesê: "Hierdie pogings is in ooreenstemming met die polisiëringsprioriteite van die provinsie om dwelmhandel uit te roei. Dwelms bly een van die hoofbydraers tot geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord. Operasies om van dwelms in gemeenskappe ontslae te raak, sal volgehou word," het hy afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’