Gallery
KLEIN KAROO NUUS - Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn se matrieks van 2020 spog soos die vorige jaar, weer met 'n 100% - slaagsyfer.
Langenhoven Gimnasium is een van slegs vier skole in die Eden Sentraal-distrik met 'n 100% - slaagsyfer.
Die toppresteerder is Charlissa Schultz met 'n gemiddeld van 89%. Sy behaal saam met Tiana van Rensburg met die tweede beste prestasie van 88,9% A-simbole in al sewe vakke. Nege leerlinge het 'n gemiddelde A-simbool behaal.
In Ladismith spog Shalom Akademie ook met 100% - slaagsyfer.
Hoërskool Oudtshoorn se slaagsyfer vir 2020 is 97,84%. Altesaam nege leerders het A-gemiddeldes behaal.
Op Prins Albert is Ricky McNight, die skoolhoof van Hoërskool Zwartberg in die wolke nadat 2020 se matrieks die vorige jaar se slaagpersentasie met 'n ongelooflike 33% verbeter het. Die 60 matrieks het 'n slaagsyfer van 90% vermag teenoor die vorige jaar se 57%.
Bridgton Senior Sekondêr se 2020-matrieks het vanjaar 'n slaagsyfer van 80% behaal. Altesaam 195 leerders het die eksamen afgelê waarvan 159 geslaag het.
Auriel Kollege se matriekuitslae het vanaf verlede jaar se 69,8% na 73,56% gespring, 'n verbetering van 5,36%. Uit die 87 leerders wat eksamen afgelê het kon 64 slaag.
Fezekile Hoërskool se algehele slaagsyfer is 67,9%, terwyl Hoërskool Môrester se slaagsyfer 56% is.
Hoërskool Ladismith se slaagsyfer is 85%. Hoërskool De Rust het 75,6% - slaagsyfer behaal.
Calitzdorp Hoërskool en Dysselsdorp Sekondêr se slaagsyfer is 70% en 79% onderskeidelik.
Oudtshoorn Courant sal volgende week al die skole se toppresteerders publiseer.
‘n Aantal van Langenhoven Gimnasium se 2020-matriekgroep wat vir ‘n 100% slaagsyfer gesorg het.
‘n Aantal van Langenhoven Gimnasium se 2020-matriekgroep wat vir ‘n 100% slaagsyfer gesorg het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'