KLEIN KAROO NUUS - Met die inperking wat môre gedeeltelik opgehef word, is daar vrese dat mense dit as nuutgevonde vryheid sal ervaar en dorp toe stroom.
Die Oudtshoorn Courant het met dokters in die dorp gesels en almal is dit eens dat die risiko vir infeksie met Covid-19 steeds uiters hoog is.
Volgens wetstoepassers en ander rolspelers is dit verstommend dat mense in gesinsverband dorp toe gaan. Dit was hierdie week duidelik dat verskeie ouers hulle kinders saamneem as hulle inkopies gaan doen.
Met die oog op die skuif na vlak 4 toe is die volgende vrae aan 'n mediese praktisyn op die dorp gestuur, sy antwoorde word geplaas as riglyne vir die voorkoming van Covid-19:
Vraag: Die dra van maskers in die openbaar is van môre af verpligtend. Wat is die moets en moenies van maskers?
Antwoord: As jy die masker aansit, hou hom aan. Moet dit nie heeltyd afhaal en weer opsit nie. Die masker is soos jou gesig, moenie daaraan raak nie, vat aan die rekkies om dit op te sit en af te haal. Was die masker na elke gebruik met warm water en seep en stryk dit as dit droog is.
Vraag: Is daar 'n moontlikheid dat mense die virus reeds het sonder om daarvan bewus te wees?
Antwoord: Ja, maar as jy daarvan siek gaan raak, sal die gemiddelde mens binne 3 tot 7 dae siek raak. Iemand kan dus nie vir weke of maande met die virus loop en mense aansteek nie. Ongeveer 18% van mense raak siek waarvan ongeveer 5% ernstig siek raak. Die veiligste is egter om elke persoon met wie jy in kontak kom te beskou as 'n moontlike draer van die virus.
Vraag: Daar is mense wat glo dat net sommige mense die virus opdoen, is dit so?
Antwoord: Nee, die virus onderskei nie tussen mense nie. Maar, ouer mense, mense met chroniese siektes soos longsiektes, rokers, diabete, hartkwale, onbehandelde tuberkulose, VIGS en kankerlyers het beslis 'n groter risiko. Sommige mense kan dalk geneties 'n beter of slegter weerstand bied maar daar is beslis geen rasverskil soos wat sommige verkondig nie.
Vraag: Met meer besighede wat nou oopmaak gaan daar meer mense op straat wees. Hoe beskerm ek myself teen infeksies met meer mense om my?
Antwoord: Hou jou twee meter afstand, dra jou masker, moenie onnodig aan iets of iemand vat nie, hou jou hande af van jou gesig af en moenie onnodig in die winkels loop en slenter nie.
Vraag: In baie huishoudings is geld vir kos skaars. Wat is noodsaaklike voedselsoorte wat mense eerder moet koop om tog gesond te kan eet?
Antwoord: Gewone kos soos vars groente, vrugte, stysels, vleis, eiers, brood, pap en melk. Waak daarteen om geld op allerhande aanvullings en kwaksalwery te mors.
Vraag: Daar word wyd verkondig dat die ergste nog kom. Is dit ook die mening van medici?
Antwoord: Dit is ongelukkig so, maar niemand kan of wil voorspel nie. Skattings wissel tussen einde Junie na Augustus voordat die groot golf ons gaan tref. Slimjanne oral verkondig dat hierdie niks anders as gewone griep is nie. Hulle is verkeerd. Hierdie is wel 'n koronavirus soos ander griepsoorte, maar die replikasie verhouding is baie hoër.
Covid-19 s'n is 1:3 en gewone virusse is 1:1. Dit beteken dat dit weekliks as volg kan dupliseer: Begin byvoorbeeld met 10 000 na een week 30 000, die volgende week 90 000 en binne vyf weke kan dit 2,4 miljoen wees tensy streng maatreëls soos wat ons tans het, toegepas word. Sonder die stappe wat tans gevolg word sal geen land ter wêreld die mediese infrastruktuur he om dit te hanteer nie.
Vraag: Moet pasiënte bang wees om dokter toe te gaan?
Antwoord: Mense wat vermoed dat hulle Covid-19 onder lede het moet 'n spesifieke protokol volg. Moenie onaangekondig in enige mediese fasiliteit instap nie. Bel vooraf dan sal jy presies ingelig word wat van jou verwag word.
Spreekkamers en hospitale op Oudtshoorn is uiters veilig om te besoek. Pasiënte wat aan ander siektetoestande ly moet steeds mediese aandag bekom. Dit help nie pasiënte bly met meer ernstige siektes by die huise en sterf aan longontsteking, beroerte, suikersiekte en ander ernstige kwale nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'