LADISMITH NUUS - Twee mans, beide 35 jaar oud, het Woensdag in die Ladismith-landdroshof verskyn na hulle Dinsdag in die vroeë oggendure in Ladismith met 67 bokse gedroogte perlemoen gevang is.
Volgens kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die sigbare polisieëringseenheid van Ladismith inligting oor moontlike dwelmhandel opgevolg.
Volgens Pojie het die polisielede 'n verdagte voertuig met 'n Gautengse registrasienommer gewaar en die voertuig afgetrek. Die drie ton vragmotor was na bewering na Port Elizabeth onderweg.
"Die lede het die vragmotor deursoek en op die bokse met 1,4 ton gedroogte perlemoen afgekom. Die beraamde waarde van die perlemoen beloop R6,7 miljoen.
"Die perlemoen en die vragmotor is gekonfiskeer en die verdagtes is op die toneel op 'n klag van die onwettige besit van perlemoen in hegtenis geneem."
Volgens Potjie is die een man 'n Zimbabwese burger en die ander 'n Suid-Afrikaanse burger.
"Die perlemoen is aan die departement van landbou, bosbou en vissery oorhandig sodat hulle daarvan ontslae kan raak. Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die lede wat by die arrestasie betrokke was vir hul optrede om misdadigers van die strate af te kry bedank."
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'