OUDTSHOORN NUUS - Alhoewel die DA slegs vier wyke teenoor die ANC se agt in die afgelope naweek se verkiesing in Oudtshoorn kon wen en die VF Plus een wyk gevat het, beteken dit glad nie dat die ANC die hef in die hand het net omdat hulle die meeste wyke gewen het nie.
Die finale prentjie het eers duidelik geraak nadat die OVK sy berekeninge van proporsionele setels afgehandel het.
As die proporsionele setels bygereken is, het die ANC en DA elk agt setels en die kleiner partye het die oorblywende nege. Dit beteken dat die ANC en die DA waarskynlik hard na die ander partye gaan vry om 'n samewerkingsooreenkoms te sluit. Sover bekend het dit nog net een keer gebeur dat een party 'n volstrekte meerderheid in 'n verkiesing kry en dit was in 2016 toe die DA uitstekend by die stembusse gevaar het.
Die setels vir Oudtshoorn is soos volg:
DA 8, ANC 8, VF Plus 3, ICOSA 2, OGI 2, Good 1 en Advieskantoor 1.
Met die aanvanklike berekeninge wat laat Dinsdagmiddag op die OVK se webtuiste geplaas is, het die DA 7 setels gehad en OGI, Saamstaan en Patriotic Alliance elk 1 proporsionele setel. Met die jongste berekening het Saamstaan en Patriotic Alliance egter die bus verpas. Die EFF en Sarco, wat met die vorige verkiesing proporsionele setels verower het, het met hierdie ronde nie hond haaraf gemaak nie. In teenstelling met 2016 het die VF Plus hierdie jaar egter baie goed gevaar te danke aan hulle bemarkingsveldtog.
Dit en die sukses van splinternuwe partye soos OGI (Oudtshoorn Gemeen-skapsinisiatief) en AK (Advieskantoor) dui daarop dat kiesers hulle vertroue in bestaande partye verloor het.
Ondersteuners en kandidate van die ANC het Dinsdag die vreugdevure figuurlik voor die munisipale gebou laat brand om hulle agt kandidate se oorwinning te vier. Iemand het egter op Facebook gevra of dit nie dalk 'n geval is van 'n troue hou voordat die bruid opgedaag het nie. Met die toekenning van die proporsionele setels blyk dit 'n raak opmerking te wees.
Nie een van die partye wou hulle teen gister uitlaat oor moontlike koalisies of samewerkingsooreenkomste nie.
Dit word waarskynlik ook verder bemoeilik omdat daar tans kandidate in kleiner partye is wat vroeër onder 'n wolk by die DA weg is. Aan die ander kant is dit ook interessant om te sien dat sommige partye kandidate het wat nie te lank gelede nie, hewige teenstanders was.
Ongeag watter ooreenkomste, in die openbaar of agter geslote deure, aangegaan word, is dit duidelik dat dit weereens kleiner partye gaan wees wat die magsbasis van die dorp se bestuur gaan bepaal.
In die drie ander omliggende munisipaliteite blyk koalisiepolitiek ook die voorland te wees.
Daar lyk die setels soos volg:
- Prins Albert se 7 setels: DA 3, ANC 1, KGP 2 en PA 1
- Beaufort-Wes se 13 setels: DA 4, ANC 4, PA 3, KDF 1 en Good 1
- Kannaland se 7 setels: Icosa 3, ANC 2, DA 1 en KIP 1
Kiesers wag geduldig om te stem in Dysselsdorp waar 'n splinternuwe party, Advieskomitee, genoeg steun ontvang het om 'n proporsionele setel te verower. Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'