Raai waarmee word Amerikaanse kinders gevoed? Beslis nie met geskiedenis nie. Beslis ook nie met verhale uit die Kinderbybel nie.
Die vraag is: Waarmee word ons kinders gevoed? Voed ons ons kinders met dinge wat waarde het? Voed ons hulle met dinge wat hulle gees, hulle karakter en hulle waardesisteem vorm? Voed ons hulle met dinge wat van hulle gesonde, gebalanseerde, verantwoordelike en volwasse mense sal maak?
Ons bederf ons kinders en voer hulle vet met vermaak en gemak en niksdoen. Ons bring hulle van buite af in sodat hulle voete net nie ons skoon huise vuil trap nie, en oorhandig hulle dan aan die beste kinderoppasser, die TV, sodat hulle net kan stil wees. Ons is maar te bly en dink hulle is al te oulik en soet as hulle vasgegom voor die rekenaar sit.