KLEIN KAROO NUUS - Desembermaand met sy kunsmatige kommersiële Kersfeesgees is ongelukkig ook die tyd van die jaar dat selfdood toeneem. Selfdood strek oor alle ouderdomsgroepe en is verantwoordelik vir 8% van Suid-Afrika se sterftes waar 23 persone per dag selfdood pleeg.
Volgens Franzu Badenhorst, direkteur van Famsa Karoo, is selfdood onder tieners aan die toeneem. Die afgelope 15 jaar het selfdood van tieners tussen 10 en 14 jaar oud verdubbel, maar gevalle van 'n sesjarige kind wat selfdood pleeg is ook al opgeteken.
"Maar, as iemand wat omgee bedag is op die tiener se gemoed, kan die hartseer voorkom word," sê hy.
Wat het navorsing oor selfdood onder tieners bevind?
- Ses uit elke 10 persone wat selfdood pleeg, is depressielyers.
- 23,6% van alle tieners voel hartseer en moedverlore
- 20,7% van alle tieners het al selfdood oorweeg
- 16,8% van hierdie tieners het al beplan hoe hulle selfdood sal pleeg
- Drie tot vier keer meer meisies as seuns oorweeg selfdood
- 9,5% van sterftes onder tieners is te wyte aan selfdood (net ongelukke en moord eis meer jong lewens)
- Die grootste risiko van selfdood bestaan in die ouderdomsgroep van 15 tot 19 jaar
- 40% van selfdoodgevalle vind tussen 07:00 en 20:00 plaas
Volgens Badenhorst kan omstandighede, wat 'n tiener laat voel dat hy hulpeloos is om dit te verander, tot selfdood lei.
Dalk is die gesin disfunksioneel omdat die ouers afwesig is weens siekte of dood, of nie die tiener na behore kan versorg nie, dwelmverslawing, afknouery by die huis en skool, angs omdat die tiener voel hy presteer nie na wense nie en stel die ouer of onderwyser teleur – dus enige faktore wat die tiener laat voel daar is nie 'n ander uitweg as selfdood nie.
Hopeloosheid lei tot depressie. Die ouer, familie en vriende en selfs onderwyser wat oplet, sal agterkom dat die tiener anders optree. Die belangrikste gevaarteken is dat die kind praat oor selfdood.
Ander gevaartekens:
- ongelukkig, geïrriteerd of opvlieënd, wat lei tot woedeuitbarstings;
- stel nie meer belang in skoolwerk nie, het 'n swakker konsentrasievermoë, onttrek aan aktiwiteite en presteer swakker;
- eetgewoontes verander en gewigsverlies of –toename vind plaas;
- slaappatrone verander, hulle is lusteloos, konstant moeg, en het nie energie nie;
- 'n gevoel van waardeloosheid en oormatige skuldgevoelens.
Badenhorst waarsku ouers om onmiddellik as onraad vermoed word, hulp te soek.
"Wanneer die tiener skielik anders optree en stil raak, kan dit wees dat hy dalk 'n besluit geneem het om die daad uit te voer. Kry hulp."
"Die tiener sien dalk nie op die oomblik kans vir die lewe nie, maar moet besef dat die gevoel van hopeloosheid sal verbygaan," sê Badenhorst en benadruk dat depressie met gedragsterapie en anti-depressante behandel kan word, indien dit vroeg geïdentifiseer word."
Hy doen die volgende beroep op mense van alle ouderdomme: "Indien jy hierdie tekens opmerk of ervaar, kontak Famsa Karoo by 044 272 7020 of besoek die kantoor by Kerkstraat 57. Die 24/7 noodlynnommer is 0800 428 428 of stuur 'n SMS met die woord "help" na 315131."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'