Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die liefdadigheidsorganisasie, Oudtshoorn Round Table 33 het tesame met Laerskool Wesbank, Wesbank Preprimêr, Oudtshoorn-Dierekliniek en Klein Karoo Koöperasie bykans R11 500 se hondekos vir Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) ingesamel.
As deel van dié projek het Oudtshoorn Round Table 33 Woensdagoggend in samewerking met die Oudtshoorn-polisie se honde-eenheid 'n hondevertoning by Laerskool Wesbank vir hul gr. 1 en preprimêr leerders aangebied.
Tydens die vertoning het ao. Dirkie Greeff van die honde-eenheid demonstrasies met ’n verskeidenheid honde uitgevoer om onder andere dwelms, plofstof en bloed tot groot vermaak van die leerders uit te snuffel.
Fotogalery: Hondekos vir Odin ingesamel
Greeff het ook die leerders teen die gevare van dwelms gewaarsku en beklemtoon dat die gebruik daarvan lewens verwoes.
Volgens die voorsitter van die Oudtshoorn Round Table 33, Mario Marias, is die organisasie by heelwat liefdadigheidsprojekte op plaaslike, nasionale en internasionale vlak betrokke.
Lede van die Oudtshoorn Round Table 33, Laerskool Wesbank-leerders en -personeel en Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) by die geborgde hondekos.
Foto's: Wyndham Ewerts
Lizelle Mouton van Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) het in haar spreekbeurt Oudtshoorn Round Table 33 en die partye betrokke bedank vir die groot hondekos-skenking en ook die leerders aangemoedig om die hondeskut te kom besoek.
Hulle is ook meer as welkom om met die honde te gaan stap. Vir skenkings kontak Mouton by 076 969 8150.
Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) laai ook gereeld foto's van hul honde op hul Facebook-blad wat die publiek kan besigtig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'