"Almal het dieselfde vraag gevra: 'Wat as dit reën?'", vertel Theo. Theo se antwoord het ook dieselfde gebly en dit is dat die buitelug-konsert sou voortgaan, desnieteenstaande.
Die reën het egter voortgeduur en ten spyte daarvan dat inderhaas na ander lokale gesoek is, was niks groot genoeg beskikbaar nie. "Toe ons egter finaal besluit ons gaan voort, het die reën opgehou," sê Theo.
Logisties sou dit buitendien baie moeilik wees om die toerusting te skuif. Toeskouers het opgedaag, gepantser teen die reën en het in snoesige groepies onder sambrele geskuil toe dit kort voor die geleentheid begin het, liggies begin uitsak het.
Dewald Gouws en enkele ander plaaslike sangers het die voorvertoning waargeneem, waarna Retief Burger en sy orkes almal op hulle voete gehad het met hulle besielende musiek. Burger het 'n besonderse getuienis gedeel rondom sy eie stryd teen depressie in die afgelope twee jaar.
Met die geleentheid so te sê op sy einde, het die reën egter met mening begin val en moes die toeskouers onderdak gaan soek.
"Ek het tydens hierdie geleentheid geleer dat God werklik gewone mense gebruik om die bonatuurlike te bewerkstellig," het Theo aan die Advertiser gesê.
"Ten spyte van die kleiner opkoms, is die terugvoering oorweldigend positief en is alle kostes gedek. Baie mense het wonderlike oomblikke in die teenwoordigheid van God beleef."

Toeskouers was onstuitbaar tenspyte van die gure weer.

Die slegte weer kon nie hierdie vlammetjies van hoop blus nie.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS