LIFESTYLE NEWS - Estrolita Williams (38) gaan volgende maand aan die Top Model South Africa-kompetisie deelneem.
Williams is 'n bekende gesig in Oudtshoorn en ly aan Serebrale gestremdheid.
Volgens haar, neem sy aan die diversiteit-afdeling van die modelkompetisie deel en ding sy teen 15 ander persone met gestremdhede van regoor die land mee.
"Ek het verlede jaar ingeskryf en gedink ek gaan 'n kans vat en kyk wat gebeur. Toe eindig ek in die finaal. Daar is 180 persone sonder gestremdhede en 15 met gestremdhede wat deelneem. Ek ag myself as baie bevoorreg om aan die kompetisie te kan deelneem."
Williams het al in verskeie skoonheidskompetisies in Oudtshoorn en die streek deelgeneem en was sy en 'n vriendin ook die eerste Suid-Afrikaners wat Suid-Afrika in 2016 in die Wêreld rolstoelskerm-kampioenskappe verteenwoordig het. Sy het ook in 2016 'n bronsmedalje in die SA-rolstoelskerm-kampioenskappe verwerf.
Williams sê ten spyte van haar gestremdheid geniet sy 'n uitdaging vreeslik en probeer sy als wat sy kan.
"Ek is met serebrale gestremdheid gebore wat my mobiliteit en spraak aangetas het. Dit keer my egter glad nie om die beste van my lewe te maak nie. Ek maak van 'n loopraam gebruik en my ouers het my van 'n jong ouderdom af geleer om onafhanklik te kan leef."
Na haar matriekjaar in 2003 het sy verskeie kursusse gedoen en bemagtig sy haarself nog verder deur 'n filmproduksiekursus in George te doen. Sy het ook by verskeie organisasies gewerk waar sy ander persone met gestremdhede gehelp het.
"My groot droom was nog altyd om 'n model te wees, maar omdat ek 'n persoon met 'n gestremheid is, het ek nooit gedink dat ek dit sou kon bereik nie. Hierdie is gelukkig my kans. Ek wil ook graag aan ander persone met gestremhede wys dat 'n gestremdheid jou nie moet terug hou om jou drome te volg nie."
Estrolita Williams tydens haar eerste rondte van SA Top Model.
Williams sê die kompetisie vind op 27 Februarie in Pretoria plaas. Sy moet 25 Januarie ook gaan sodat sy die loopplank-werkswinkel en fotosessies kan doen.
Vir verdere inligting, kontak haar by 082 590 4750.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'