OUDTSHOORN NUUS - Hy is baie trots op sy dahlias wat elke jaar verbygangers se oë laat rek.
So sê Solly Dyssel, afgetrede skoolhoof, op die hoek van Vyfdelaan en Rosseaustraat in Colridge View, wat met reg as Oudtshoorn se dahliakoning beskou kan word.
"Dis my stokperdjie en ek geniet dit terdeë." Volgens Dyssel koop hy net van die beste dahliabolle aan van 'n dahlialiefhebber in Kaapstad, Hendrik de Bruin.
"Die bolle is duur, maar wanneer die blomme in jou tuin pronk is dit die moeite werd," sê Dyssel. "Die grond moet goed voorberei word voordat die bolle in Novembermaand geplant word. Blomtyd is in die laat somer en herfs."
Hy verkoop nie sy dahlias nie, maar gee gereeld daarvan aan aftreeoorde.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'