OUDTSHOORN NUUS - Vir 'n Oudtshoorniet om 'n Platinum-toekenning vir kunsfotografie in 'n internasionale kompetisie te ontvang is klaar 'n groot prestasie.
Om egter op dieselfde aand in 'n wêreldbekende Italiaanse operahuis te sit en te hoor jou naam word aangekondig as die beste ontwerper van die jaar uit 9 000 inskrywings, is 'n onwerklike gevoel. Dit was Chris Slabber, kunstenaar van Oudtshoorn, se ervaring toe hy op 29 Junie in Como, Italië, deur 'n paneel van 200 beoordelaars as die A Design Awards se ontwerper van die jaar aangewys is.
"Ek was só oorbluf, ek kon omtrent nie opstaan nie, ek het eers gedink ek het verkeerd gehoor," het hy hierdie week na sy terugkeer uit Italië, gesê.
Volgens Slabber is die A Design Awards een van die top-ontwerpkompetisies in die wêreld waarvoor hy reeds die afgelope vyf jaar inskryf. Met sy vorige inskrywings het hy 'n silwer-, twee goue en 'n platinumprys verower.
"Ek het reeds in April gehoor ek het platinum gekry vir die kategorie foto-manipulasie, maar ek het nie vir een oomblik gedink ek sal as die ontwerper van die jaar aangewys word nie, want daar is dosyne kategorieë met ongelooflike inskrywings."
Slabber se inskrywing was 'n reeks van ses gemanipuleerde foto's van insekte wat hy vir sy kliënt, TBWA Agency, moes maak vir 'n advertensieveldtog vir insekdoders.
"My opdrag was om modelle van ses insekte te skep en dit dan uit verskillende hoeke af te neem. Die uitdaging was egter dat ek besluit het om die modelle te maak van materiaal wat die omgewing waar die insekte voorkom en die kos wat hulle eet, uitbeeld. Ek het besluit om die insekte uit afval te bou eerder as om hulle met rekenaartegnologie te ontwerp, want ek wou hulle so realisties as moontlik hê en wou ook hê mense moet bietjie vir hulle gril. Ek het oorskietkos, groente, vrugte, hare, pels en enige afval wat ek in die hande kon kry, gebruik om 'n muskiet, vlieg, vlooi, kakkerlak, vismot en 'n mier te bou."
Nadat elke model voltooi is, is dit op kamera vasgelê en tot 'n mate digitaal gemanipuleer.
'n Mier was een van die ses insekmodelle wat Chris Slabber uit afvalmateriaal gebou het.
Die opdrag het Slabber ongeveer twee maande geneem en hy is reeds besig met 'n volgende opdrag. Hy voorsien dat die volgende twaalf maande besig gaan wees aangesien hy as ontwerper van die jaar vir 'n jaar lank internasionaal deur A Design Awards bemark word. Sy inskrywing het nie net by die A Design Awards presteer nie, maar is ook deur die Art Directors Photography in New York met 'n silwertoekenning beloon.
Dié 36-jarige kunstenaar werk reeds die afgelope 10 jaar vir homself. "Ek dink die geheim van 'n suksesvolle ontwerper is nie noodwendig opleiding nie, dit is hoe jy jouself toewy en hoe groot jou passie is."
Chris Slabber in 'n straat in Como Italië, met sy toekenning as ontwerper van die jaar.
Alhoewel hy vir homself werk, volg Slabber 'n streng werksroetine. "Ek werk elke dag ten minste agt ure, soms langer, afhangende van my kliënt. Ek moet my werksure by hulle aanpas wat beteken dat ek soms twee-uur in die oggend werk omdat dit by die kliënt nog kantoorure is."
Hy verduidelik dat hy ten minste elke tweede dag terugvoering aan kliënte gee. Tussen sy opdragte hou hy ook uitstallings van sy grafiese kuns, maar beskou dit tans as 'n stokperdjie en ontspanning.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'