OUDTSHOORN NUUS - Sowat 100 vroue van die Evangelies Lutherse Kerk se Moria-streek het die afgelope naweek in Oudtshoorn byeengekom.
Die tema van die konferensie was gebaseer op Openbaring 21:6 wat lui: "Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met water van die lewe, verniet."
Die streek sluit in die parogieë van Oudtshoorn, Riversdal, Ladismith, Mosselbaai, Haarlem, Tuinroete en Port Elizabeth.
Die konferensie is Vrydagaand geopen met 'n nagmaaldiens gelei deur pastoor Wolf von Kilian en Deken Jacques Grispe. Sondagoggend het die vrouens 'n optog vanaf Môrester se koshuis tot by die Lutherse kerk gehou waarna die naweek met 'n nagmaaldiens afgesluit is. Die diens is deur pastoor Karin Fourie van die Ladismith Parogie gelewer.
Deken Jacques Grispe het in sy afsluitingsboodskap die gemeenskap van Oudtshoorn bedank vir hul mildelike ondersteuning van die konferensie.
Hy het die vroue en die kerk se leierskap aangemoedig om voort te gaan met die uitbouing van God se koninkryk te midde van die uitdagings wat die kerk in die gesig staar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'