OUDTSHOORN NUUS - Die besluit van Kunste Onbeperk om 'n kunste-akademie by die Toekomsrus-saal te vestig het verlede Saterdag gestalte gekry met meer as 150 kinders en volwassenes wat aan programme deelgeneem het.
Terwyl 15 plaaslike digters in een lokaal besig was met 'n werksessie oor die digkuns het 138 energieke kinders en volwasse vrywilligers die groot saal oorgeneem met verskeie dramawerksessies.
Volgens Lizané Basson, algemene bestuurder van die KKNK, het hulle skole genooi om leerders in drie ouderdomsgroepe van gr. 1 tot gr. 12 te stuur om aan drie sessies deel te neem.
Die dramsessies is deur die Oudtshoorniet en afgestudeerde dramastudent van Stellenbosch Universiteit, Daniëlle Lategan, aangebied.
"Die werksessies het uit speletjies en aktiwiteite bestaan wat gebaseer is op kreatiwiteit, voordrag, improvisasie en fokusspeletjies. Ons enigste uitdaging was dat daar meer kinders opgedaag het as waarvoor voorberei is. Dit het veroorsaak dat daar nie genoeg sertifikate was vir die gr. 8 tot 12-groep nie. Hulle sertifikate sal by die onderskeie skole afgelewer word," het Basson gesê.
Plaalike digters wat deel was van 'n digterswerksessie ter voorbereiding van hulle deelname aan die Santie de Jager Digtersden by die KKNK.
Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, het gesê die reaksie was oorweldigend.
"Ons het so 'n paar deelnemers verwag en oor die 120 het opgedaag.Van dramawerksessies vir gr. 1 tot gr. 12, 'n digterswerksessie (ter voorbereiding van KKNK se nuwe Santie de Jager Digtersden) tot oudisies vir 'n produksie tydens KKNK. Dit was wonderlik!"
Die digtersessie is deur Hannes Visser aangebied wat saam met Poem Mooney die Santie de Jager Digtersden tydens die KKNK saamstel. Visser se bundel, Die jaar toe pa..., is elke dag deel van die Digtersden en die res van die program is propvol gesprekke met plaaslike digters, jongmense en 'n aantal bekende akteurs.
Die Santie de Jager Digtersden word by die Uitkampteater aangebied en behalwe vir Die jaar toe pa... is alle sessies gratis.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'