TUINROETE NUUS - Die rook van tabakprodukte is die hoofoorsaak vir ongesonde longe, longkanker en meer as 20 verskillende soorte kankers. Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) doen 'n beroep op die publiek om dit te oorweeg om die gebruik van tabakprodukte in enige vorm te staak. Dit sal help om die risiko van kanker te verlaag en sal deel wees van die 365 dae gesondheidveldtog in die aanloop tot Wêreld Geen Tabakdag wat jaarliks op 31 Mei gehou word. #WorldNoTobaccoDay
"Die SA jeugrisikogedragsopname van 2011 berig dat 28% van leerders van graad 8 tot 11 (meer as 80% van hulle is 14 tot 18 jaar), het erken dat hulle gerook het of nog steeds rook. Die jeug word om die bos gelei deur hulle te laat glo dat die rook van 'n hookah of die gebruik van 'n hubbly bubbly nie skadelik is nie en dat e-sigarette 'n veilige alternatief is vir die rook van tabakprodukte. Navorsing bewys egter dat die gebruik van 'n hookah dieselfde gesondheidrisiko's inhou as die rook van sigarette en die veiligheid van e-sigarette is nog nie wetenskaplik bewys nie.
Toetse gedoen op e-sigarette dui aan dat die hoeveelheid nikotien daarin en ander chemikalieë wat veroorsaak word deur verskillende soorte e-sigarette aansienlik van mekaar verskil. Hierdie inligting word nie bekendgemaak aan mense wat dit koop en gebruik nie. Blootstelling aan nikotien affekteer ook die breinontwikkeling van tieners en kinders op 'n negatiewe wyse," sê Elize Joubert, hoof-uitvoerende beampte, Kansa.
Effek van rook
Die wêreldwye gesondheidslas as gevolg van die rook van tabakprodukte is verantwoordelik vir meer as twee derdes van sterftes aan longkanker en is die rede waarom een in vyf gevalle van mense wat rook met tuberkulose (TB) gediagnoseer word. Selfs al is iemand 'n nie-roker kan tweedehandse rook van mense wat rondom hulle rook die nie-roker se risiko vir longkanker verhoog. Rook en tweedehandse rook kan ook onaktiewe TB infeksies aktiveer. Mense met aktiewe TB se risiko vir gestremdheid word verhoog deur rook en hulle kan selfs sterf as hulle nie hul rookgewoontes staak nie. Rokers met MIV se kanse om met TB gediagnoseer te word is drie keer groter as mense met MIV wat nie rook nie.
e-Sigarette kan nie uitgesluit word nie want die gebruik van hierdie produkte lei tot die verspreiding van baie fyn onsigbare vloeistowwe, nikotien en stowwe wat kanker kan veroorsaak in die lug, wat ingeasem word. Alhoewel e-sigarette bemark word as middels wat 'n roker sal help om die rookgewoonte te staak, kan hierdie veronderstelling nie deur navorsing gestaaf word nie. Dit mag rokers selfs aanmoedig om meer gereeld nikotienprodukte te gebruik. Dit is ook nie goedkoop om e-sigarette te rook nie en rokers kan as gevolg daarvan besluit om eerder sigarette te rook om geld te spaar.
Nooit te laat
Kansa moedig rokers aan om te begin waar hulle is (#StartWhereYouAre) deur te erken dat rook skadelik vir hul gesondheid is, te besluit om liewers die rookgewoonte te staak en om ondersteuning te verkry om dit reg te kry. Kry nuttige wenke van Allen Carr's Easyway to Stop Smoking Programme – 'n Kansa Smart Choice https://www.allencarr.com/free-information/stop-smoking/top-tips-on-how-to-stop-smoking-using-allen-carrs-easyway/.
Rokers wat wil ophou rook, kan ook aansluit by Kansa se eKick Butt program http://www.ekickbutt.org.za/ wat handige wenke verskaf om jou te help om die rookgewoonte te staak deur 'n reeks eposse. Of skakel die National Council Against Smoking (NCAS) QUIT Line: 011 720 3145 of stuur 'n epos aan: quit@iafrica.com
Vir meer inligting kontak asseblief die Kansa-sorgSentrum in George, bel 044 874 4824 of besoek www.cansa.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'