LEEFSTYL NUUS - Vir miljoene vroue wêreldwyd is elke dag ’n stille stryd teen pyn omdat endometriose deel is van hulle lewens.
Wat is endometriose?
Dit is ’n chroniese toestand, waar weefsel soortgelyk aan dié wat die uterus uitvoer, daarbuite groei. Die weefsel tree op soos wat dié binne die uterus sou – dit verdik, breek af en bloei tydens elke menstruele siklus.
Die probleem is dat dit groei op plekke waar dit nie hoort nie, en nie die liggaam verlaat nie. Dit veroorsaak intense pyn en dikwels ook onvrugbaarheid.
Ander simptome kan insluit pyn tydens intimiteit, pyn tydens stoelgange of urinering en ook moegheid, diarree, opgeblaasheid en hardlywigheid, veral voor of na menstruasie.
Sommige vroue kan egter geen simptome ervaar nie, en vind dalk eers uit wanneer hulle nie swanger kan raak nie, of as hulle ’n operasie vir ’n ander rede ondergaan.
Kan onvrugbaarheid veroorsaak
Deidre Nel, ’n vroedvrou in privaat praktyk van Johannesburg, sê dat endometriose inflammasie veroorsaak wat die pH van die uterus verander wat dan ’n ongunstige omgewing vir spermselle skep. Endometriose kan ook eierselle beskadig, sodat vroue met onvrugbaarheid sukkel.
“Endometriose is dikwels ’n genetiese toestand wat in families voorkom. Daar is nie veel wat ’n mens daaraan kan doen om dit te behandel nie, behalwe om ’n baie kundige dokter te kry om die weefsel versigtig weg te sny. Dit is baie belangrik om ’n dokter te kry wat weet wat hy of sy doen sodat hulle nie verder skade aanrig nie.”
Dr Wynand van Tonder, ’n ginekoloog en spesialis in voortplantingsgeneeskunde van Johannesburg, beaam dit en sê dat die dokter wat jy kies, uitgebreide kennis moet hê van die tipe chirurgie wat gedoen kan word om endometriose te behandel.
“Maak seker jou dokter kan die endometriose veilig verwyder, en dit is beter om ’n hoogs gekwalifiseerde chirurgiese span te hê wat so ’n operasie aanpak.”
Hy verduidelik ook dat vroue met endometriose volgens hulle ouderdomme in drie groepe geklassifiseer word – vroue bo 35, vroue tussen 25 en 35, en vroue onder 25.
Laasgenoemde groep word meestal net behandel vir pyn, nie vir vrugbaarheid nie en Van Tonder sê hy sal nie sommer op hulle opereer nie.
“Die tussen-in groep is gewoonlik die vroue wat ons help met vrugbaarheidsbehandelings, maar omdat die vroue steeds jonk is, kan ons dikwels ’n meer konserwatiewe roete volg. Vir vroue bo 35 moet ons dikwels IVF gebruik vir hulle om swanger te word.”
Kry betyds hulp
Nel se boodskap aan jong meisies wat sukkel met erge menstruasiepyn, is om so gou as moontlik professionele hulp te kry.
“Besoek ’n ginekoloog wat in endometriose spesialiseer, of selfs ’n vrugbaarheidskliniek. Moenie wag tot jy eendag wil swanger word nie, dit vat baie lank om endometriose onder beheer te kry. In hierdie geval is dit baie belangrik om te voorkom dat die endometriose só ver vorder dat dit jou kanse om swanger te raak, benadeel.”
Gaan lees gerus die volledige artikel: Endometriose – kry van jongs af hulp
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’