OUDTSHOORN NUUS - Honderde luisteraars van die Suid-Kaapse gemeenskapsradio, EDENfm, het voor verlede Sondagmiddag die dankseggingsdiens van die radio se vlagskipprogram, Deo Gloria, in die Bridgton United Congregational Church bygewoon.
Ses kore, die Filippense Massakoor, Young Ambassadors, Heavenly Messengers, Holy Samaritans, die kerk- en mannekore van die kerk, Awie Ewerts en die Oneness-orkes het tydens die geleentheid opgetree.
"Ons is hier om dankie te sê aan ons Hemelse Vader vir 15 jaar van genade," het pastoor Leon Prinsloo, ankeraanbieder van die gewilde Sondagaand gebedsversoekprogram gesê. "Dit was nie altyd maanskyn en rose nie."
Prinsloo het sy dank uitgespreek teenoor diegene wat in die beginjare hul hande in hul sakke gesteek het om die radio aan die gang te hou. Die radio vier ook vanjaar sy 15de bestaansjaar.
Die stasiebestuurder, Morné Pietersen, het in sy oorsig van die radio se geskiedenis sy dank uitgespreek teenoor die radio se lojale luisteraars en veral dié van Deo Gloria.
Deo Gloria het saam met EDENfm in 2003 begin toe die radio met 'n tydelike lisensie elke keer vir 'n maand uitgesaai het.
Die uitsendings is dan elke keer op 'n Sondagaand met die program afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'