DE RUST NUUS - Die dorpie De Rust het Vrydagaand, 26 September, opgevlam met die amptelike opening van De Rust Open Studios 2025 by Die Ateljee in Schoemanstraat, die gedeelde werkruimte van kunstenaars Brahm van Zyl en Juria le Roux.
Die aand was die begin van 'n naweek vol kreatiwiteit, gemeenskap en Karookultuur. Gaste is verwelkom met egte De Rust-gasvryheid.
Die hart van Open Studios is die vier kunstenaars wat hul deure vir die publiek oopgestel het, Hermann Niebuhr, internasionaal erkende skilder, bekend vir sy evokatiewe landskappe en spel van lig en ruimte, Diane McLean, wie se Karoo-geïnspireerde landskappe en stillewes stilte en herinnering vasvang, Juria le Roux, wie se kleurvolle, maar diepgaande werke die verganklikheid van die lewe en die invloed van die Antroposeen ondersoek en Brahm van Zyl, veral bekend vir sy kragtige landskappe en sy erfenisprojek wat die driwwe van Meiringspoort dokumenteer.
Verder het Marita Serfontein die uitstalling Vierkant by Pluim Eatery bekendgestel, waar verskeie kunstenaars werke in dieselfde 20x20 cm-formaat geskep het, 'n kollektiewe en oorspronklike viering van kreatiwiteit in een vorm.
Die fees het egter oor meer as kuns gegaan. Besoekers kon ook smul aan handgemaakte roomys, olyfolieproeë, joga, perdritte, smidsdemonstrasies en die SA Motorcycle Film Festival, wat die naweek in 'n volle kultuurfees omskep het.
"De Rust Open Studios was oor meer as net om kuns te sien, dit gaan oor oop harte, gedeelde kreatiwiteit en die viering van die unieke Karoogees," het organiseerder Marita Serfontein gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’