OUDTSHOORN NUUS - Die program vir die 26ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat van 23 tot 29 Maart 2020 op Oudtshoorn plaasvind bied weereens uiteenlopende en uitstaande vermaak vir die hele gesin, en kultuurdiere kan rojaal kom baljaar in die Klein-Karoo.
"Die 2020-program en -fees is saamgestel om iets vir almal te bied. Families en vriende moet hier in die Klein-Karoo kom ontspan en ontsnap van die alledaagse.
"Daar word ook gratis vermaak en gesprekke aangebied en jy kan die fees beleef sonder om jou sak te breek. Ons het die beste en jou gunstelingkunstenaars deel van die program gemaak, om vele debute en ook die beste werk van die afgelope jaar in te sluit. Jy kan hier rojaal kom fees!" sê Hugo Theart die artistieke direkteur van Kunste Onbeperk (die organisasie wat die KKNK aanbied).
Op die verhoog
Nicola Hanekom is na 'n paar jaar se afwesigheid terug met haar toneelstuk, Mirre en Aalwyn met akteurs soos Vinette Ebrahim en Amalia Uys. Nog 'n debuutproduksie is Opdrifsel wat handel oor 'n ouerpaar wat die dood van hul tienerseun verwerk.
Dan gee Lizz Meiring lewe aan 'n inspirerende ware lewensverhaal van 'n jong weeskind en 'n ouer vrou en hoe hulle mekaar se lewens verander in Die atleet.
Daar is ook 'n hele aantal solo-stukke onder meer Sandra Pinsloo in Kamphoer, Cintaine Schutte in Die dinge van 'n kind en Hannes van Wyk in Sê groete vir Ma..
Musiek
Op die musiekfront kan feesgangers 'n allegaartjie van genres verwag. Nuwe musiekproduksies sluit in Smeltkroes met onder andere Luna Paige, Ramon Alexander, Frazer Barry en Jolyn Philips. Schalk le Roux se 25 jaar met 'n baskitaar is sy reis oor 25 jaar as musiekverwerker en musikant.
Hy is te sien saam met Anton Goosen, Koos Kombuis, Gert Vlok Nel en vele ander. Hartstog is Laurinda Hofmeyr se toonsetting van Nobelpryswenner Pablo Neruda se Spaanse gedigte in Afrikaans vertolk deur Gideon Lombard en ander sangers.
Ander gunstelinge op die program is Coenie de Villiers en Deon Meyer, Amanda Strydom, Anna Davel, Rocco de Villiers, Loki Rothman, Ricus Nel, Demi Lee Moore, Elzabé Zietsman, Jannie du Toit, Adam Tas, Elvis Blue en vele meer.
Gratis kuiers
Gratis vermaak is aan die orde van die dag in Baron van Reedestraat, die hart van die fees. Die Netwerk24-feeskafee is die tuiste van die ATKV-boeke-oase, boekgesprekke en die gewilde Die Burger Praat Saam Diskoersreeks.
Die Absa Rooiplein wat die Absa-burgersentrum en die Absa-kuierkamer insluit, sorg vir verskeie kuns-, kos- en ginervarings en verskeie gespreksreekse.
Uitkampteater, straatteater en 'n nuwe opwip-venue, Die Santie de Jager-digtersden, sal ook sorg vir verdere vermaak vir feesgangers. Kyk op bladsy 4 na 'n berig oor die Santie de Jager Digtersden.
Kuierbuurt
Die Kuierbuurt is die bymekaarkomplek vir alle kultuurdiere by die fees met aktiwiteite dwarsdeur die dag. Aktiwiteite vir die jongspan by Speelbos, wyn en kos by die nuwe Liplekker en 'n verskeidenheid ander kroeë en rusareas.
Die markte trek 'n nuwe baadjie aan en jy kan uitsien na 'n verskeidenheid demonstrasies en ander vermaak.
Musiek word dwarsdeur die dag gespeel by die Castle-verhoog en daar is ook ses groot opelug piekniekkonserte waarvan Kaktus oppie Vlaktes beslis 'n hoogtepunt sal wees. Die fees word afgesluit met 'n Sondagmiddagkonsert op 29 Maart.
Spesiale aanbiedinge
Slaan munt uit die Afskop-promosie – 'n Kuierbuurt-weekkaartjie kos slegs R250 vanaf 16 Desember 2019 tot 16 Januarie 2020. Ons Goue promosie bied 'n Kuierbuurt-weekkaartjie vir slegs R225 vir persone 70 jaar en ouer.
Dié kaartjie is van 16 Desember 2019 tot 23 Maart 2020 beskikbaar.
Dan is daar die promosie vir Oudts-hoorniete wat tussen 27 en 31 Januarie 2020 slegs by die Kunste Onbeperk-kantoor beskikbaar gaan wees. Oudtshoorniete wat hulle bewys van adres saambring kan 'n Kuierbuurt-weekkaartjie teen slegs R200 koop. Die weekkaartjie sluit alle konserte, musiek en markte in wat die Kuierbuurt dwarsdeur die week aangebied word.
Laai die volledige program by www.kknk.co.za af. Kaartjieverkope open Maandag 16 Desember 2019 om 10:00 by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home.
Vir verblyfnavrae stuur 'n e-pos na verblyf@kunste.org.za of skakel 044 203 8600. Vir enige ander navrae skakel 044 203 8600 of stuur 'n epos na media@kunste.org.za
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'