OUDTSHOORN NUUS - Die Arries-familie van Matjiesrivier het gedurende die Paasnaweek 'n tweede familiereünie by De Hoek-vakansieoord gehou.
Van die meer as 150 familielede wat dit bygewoon het, het van so ver as Duitsland gekom.
Die oorgrootte meerderheid van die uitgebreide familie woon volgens Iris (Arries) Muller tans op Oudtshoorn, nie ver van Matjiesrivier, die geboorteplek van hul ouers en voorouers.
Op Barnardsplaas, Matjies-rivier, is nege kinders uit die huwelik van Groot Jan Arries en Sarah le Roux gebore. Groot Jan (dis hoe hy bekend gestaan het vanweë sy fisieke gestalte) was een van sewe kinders van Joab en Mina Arries.
Volgens Muller was die naweek se hoogtepunt toe haar oupa se broerskind, Hekkie (91) hulle kom verras het.
"Dit was 'n groot en emosionele oomblik aangesien ons nie van sy bestaan bewus was nie. Sy pa was Abraham Arries getroud met ene Sarah. Hulle het sewe kinders gehad."
Die familie se vorige samekoms was in 2017 en daar word reeds gepraat van een in 2021.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'