OUDTSHOORN NUUS - Die ouditeur-generaal het 'n ongekwalifiseerde ouditverslag aan Kannaland-munisipaliteit uitgereik. Volgens 'n persverklaring wat deur Ian Avontuur van die burgemeester se kantoor, uitgereik is, het Kannaland se prestasie vir die 2017-2018 boekjaar groot vordering in vergelyking met vorige jare getoon.
Volgens Avontuur beteken 'n ongekwalifiseerde oudit dat die munisipaliteit die toepaslike reëls en regulasies soos deur die ouditeur-generaal voorgeskryf, nagekom het.
In die verklaring sê Avontuur: "Die ongekwalifiseerde oudit wys dat Kannaland ernstig is met skoon regering en goeie administrasie. Die ongekwalifiseerde oudit is werklik n spanpoging van ons uitvoerende bestuur, en elke amptenaar binne die munisipaliteit word hartlik bedank vir hul volgehoue harde werk en verbintenis tot goeie dienslewering aan die gemeenskap."
'n Navraag is aan Anton Bredell, provinsiale minister van plaaslike ontwikkeling, gestuur om sy mening oor die ongekwalifiseerde oudit en die vordering van Kannaland te bekom.
Hy is ook gevra om kommentaar te lewer oor die huidige situasie by Kannaland waar die raad glo onlangs die munisipale bestuurder tydelik geskors het.
Kannaland se raad word tans beheer deur 'n nie-amptelike samewerking tussen die DA en die ANC.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'