OUDTSHOORN NUUS - Uitspraak in die saak teen 13 verdagtes wat na bewering die eienaars van drie spazawinkels in Bridgton van onder andere kontant en selfone beroof het, moes verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof weens die siekte van een van hul regsverteenwoordigers uitgestel word.
Cheslin Bruintjies, Cordwill May, Patrick Malgas, Dawid Swarts, Corné Kammies, Sam Olckers, Ashwill Oosthuizen, Numfriano Meyer, Patrick Fortuin, Wayne Johannes, Johan Goliath, Andrew Esau, Andrew Witbooi en Henry Fortuin staan tereg op aanklag van roof met verswarende omstandighede deurdat hulle glo op 10 Januarie 2017 in Petunialaan, Bridgton die winkeleienaars beroof het. Almal pleit onskuldig.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof meegedeel dat een van die 13 se regsverteenwoordigers, Eugene Roos, met siekteverlof is en hy het versoek dat die saak uitgestel word.
Die hofsaal was Donderdag volgepak van familie en vriende van die verdagtes wat duidelik ongelukkig was oor die uitstel.
Drie van die 13 is op waarskuwing vrygelaat terwyl die res in aanhouding bly.
Die saak dien voor streeklanddros Neels Cronjé en is verdaag tot 23 Augustus.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, KLein Karoo nuus'