OUDTSHOORN NEWS - Klaarstroom, ‘n Victoriaanse dorpie net noord van Meiringspoort, het in die middel 1800’s tot stand gekom. Dit is aanvanklik Pietersburg genoem, maar later bekend geraak as Klaarstroom weens die helder stroom water wat daar verbyvloei.
Die klare stroom was ‘n belangrike plek vir wolboere wat met hul ossewaens, hoog gelaai met skaapwol, uit die Karoo na die hawe by Mosselbaai op pad was. Hier kon hulle hul kosbare wol in die helder stroom gewas het. ‘n Skotse entrepreneur, PJ Alport, het in 1874 ‘n geleentheid raakgesien en ‘n wolwassery gevestig. Die wassery is deur George Wallis ontwerp, wat ook die Anglikaanse kerkie op die dorp ontwerp het.
In die kerkhof van dié Church of the Good Shepherd lê die grafte van die Britse korporaal Boyd en kavalleris Hirschford wat in die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het.
Naas die drie kerkies, het verskeie ander geboue in die Suid-Afrikaanse weergawe van Victoriaanse boustyl behoue gebly. Dit sluit die ou polisiekantoor, wat uit 1860 dateer, en ‘n algemene handelaar in. Die Klaarstroom Hotel, wat uit 1874 dateer, herroep ook herinneringe aan ‘n nostalgiese verlede. Die hotel is 'n paar jaar gelede herstel en opgradeer en is 'n puik stilhouplek voordat die pad Beaufort-Wes of Prins Albert toe voortgesit word. Klaarstroom is ook die tuiste van die bekende filmmaker Koos Roets en sy lewensmaat Eunice Visser. Roets het drie jaar gelede die enigste straat in Klaarstroom met honderde vragte grond in 'n grondpad omskep vir die verfilming van Faan se Trein.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'