OUDTSHOORN NUUS - Sowat 18 km buite Oudtshoorn is 'n unieke nedersetting waar huise met gepakte leiklip gebou is.
Kliplokasie is ongeveer twee kilometer buite Volmoed in die klipkoppies van die Gamkaberg, oorkant die Volmoed NG kerk geleë. Hier kon bruin mense n die vroeë 1900's erwe bekom en vir hulle huise bou met klip wat hulle met groot moeite self moes kap.
Dié boutradisie gaan steeds voort en tans woon daar ongeveer 200 mense in 47 unieke kliphuise. Inwoners is steeds besig om huise te bou met leiklip wat met die hand in die berg gekap en met ‘n kruiwa na die bouperseel gestoot.
Een van die inwoners is Hendrik Julies, wie se oupa Andries Julies (gebore 1903) deel was van ‘n uitgebreide familiegroep wat die huise in Kliplokasie begin bou het. Volgens Julies het sy familie met vee geboer, en in ruil vir weiding het hulle op die boere se plase gaan werk.
Julies woon steeds in sy ouers se huis wat amper 75 jaar gelede gebou is. Die Volkskerk, wat ook uit leiklip gebou is, het onlangs sy 80ste herdenking gevier.
Kliplokasie is deur die jare opgradeer en water en elektrisiteit is aangelê. Die inwoners wil egter die karakter van Kliplokasie bewaar en nuwe inwoners word gehelp om huise op die tradisionele manier te bou.
Klipokasie leen homself tot unieke fotogeleenthede. Om daar te kom neem die Calitzdorp-pad tot by die Volmoed-afdraaipad ongeveer 7 km buite die dorp. Volg die pad deur Volmoed en wees dan op die uitkyk vir die grondpaadjie wat min of meer oorkant die Volmoedkerk en 'n paar huise na regs afdraai. Kliplokasie lê ongeveer 'n kilometer met die paadjie net agter die eerste heuweltjie.
Die Volmoedkerk is gebou nadat die 'n boer, WG Olivier, in 1908 aangebied het om ‘n NG-kerkgebou op ‘n gedeelte van sy plaas, Armoed, te bou.
Olivier was bereid om 5 morg af te staan waar hy op eie koste ‘n kerkgebou met sitplek vir 700 siele sou bou. Die doel hiervan was om die grond in erwe te verdeel en ‘n dorp te stig.
Dominees George Murray en Andrew Murray McGregor het die kerkgebou se hoeksteen op 16 Mei 1910 gelê, en in 1912 is die transportakte van die grond en die kerk aan NG Oudtshoorn se kerkraad oorhandig.
Die volgende jaar is ‘n pastorie gebou. 'n Tweede pastorie en ‘n kerksaal is mettertyd ook gebou, en later is nog ‘n kerksaal aan die buitewyke van Volmoed gebou.
Intussen het Olivier die grond rondom die kerk in ‘n aantal erwe opgedeel, maar slegs blankes is toegelaat om die erwe te bekom.
In die middel 1900’s is die dorp van Armoed verander na Volmoed.
Vandag word van die beste volstruisvere in die Klein-Karoo in die Volmoed-omgewing produseer. Mettertyd het van die volstruisboere hul huise in spoggerige gastehuise omskep. Een van die oudste volstruis-skouplase, Highgate, is op Volmoed geleë. Hier kry besoekers van oral in die wêreld geleentheid om te sien hoe ‘n volstruisplaas werk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'