PRINS ALBERT NUUS - Hoërskool Zwartberg se 60 matrieks van 2020 het 'n matriekslaagsyfer van 90% behaal.
Dié puik verbetering van 33% op die vorige jaar is te danke aan, "kinders wat in 'n uiters moeilike jaar vasgebyt het en onderwysers wat hul beste professionele vertoning ooit gelewer het," sê Ricky McKnight, Zwartberg se skoolhoof.
Behalwe vir die slaagsyfer van 90% teenoor die vorige jaar se 57%, het 75% van die matrieks geslaag met alle vereistes vir tersiêre opleiding.
"Ons slaag- en prestasiesyfers is te danke aan 'n toegewyde span onderwysers en leerders wat die uitdagings van Covid-19 eenvoudig aanvaar het, 'n bondgenootskap met mekaar en met die skool gesluit het en 'n Covid-19-bestuursplan ontwikkel het."
"Toe die afsonderingstyd begin het, is ons onverhoeds betrap. Ons was genoodsaak om baie vinnig die elektroniese kommunikasie tussen die skool en die matriekouers te verbeter. Gelukkig het Prins Alberters 'n rekenaar en selfoon aan ons geskenk wat net vir dié doel gebruik is."
McKnight sê toe die skole later in 2020 heropen het, was die leertyd vir matrieks voor die eindeksamen skraps, "maar ons het hulle dagrooster aangepas – sommige periodes en skooldae verleng; ook ekstra klasse aangebied, soms selfs Saterdae. Ons het 'n baie intensiewe program gevolg, onder meer vakansieskole in sommige vakgebiede."
Hy gee ook die versekering dat die leer- en kommunikasiestelsels wat met Covid-19-grendeltyd gevestig is, nie gaan verander indien omstandighede na normaal terugkeer nie.
Een van die positiewe gevolge van hierdie nuwe onderrigbenadering is dat Zwartberg se matrieks gereeld in kleiner klasgroepe gewerk het, wat tot 'n kwaliteit-leerkultuur gelei het. Zwartberg se topleerder is Edwin Cupido, gevolg deur Tiffany Kordom en Chantel van Schalkwyk.
Zwartberg ontvang binnekort 'n prys van die Wes-Kaapse onderwysdepartement vanweë die reusesprong in slaagsyfer. "Dit is 'n virtuele prysuitdelingsgeleentheid wat later vandeesmaand plaasvind," het McKnight gesê.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'