Daniël (43) en Edward (23) Zaayman is twee weke na mekaar in hegtenis geneem op klagtes wat verband hou met die koop en verkoop van voertuie, geld ontvang vir 'regasdvies' en transaksies op Gumtree.
Hulle is medebeskuldigdes op sommige van die klagtes en het gisteroggend saam in B-hof op Oudtshoorn verskyn waar die saak tot 10 Maart uitgestel is.
Edward het ook onlangs in die hof op Wynberg verskyn op klagtes van bedrog. Hy sou ook in die hof verskyn het om aansoek te doen dat 'n interdik wat sy vrou teen hom het ter syde gestel sal word. Dit is op hierdie stadium onduidelik of hy steeds die interdik teëstaan.
Nadat hy en sy pa aanvanklik saam in die Oudtshoorn-gevangenis aangehou is, is hy Mosselbaai toe verskuif en sy pa, Daniël, word in George aangehou.
Daniël het na hulle gesamentlike verskyning alleen in die A-hof verskyn. Hy word daarvan aangekla dat hy homself as 'n prokureur voorgedoen het en gelde wederregtelik vir dienste ontvang het.
Hy het aangedui dat hy op mediese gronde sou aansoek doen om borg nadat borg verlede jaar geweier is. Volgens inligting wat bekom is beweer hy dat hy nierprobleme ondervind op grond waarvan hy om borg wil aansoek doen. Dit blyk dat hy voor die hofverskyning daarop gewys is dat die gevangenis oor genoegsame mediese geriewe beskik en toe sy voornemens om aansoek te doen vir borg laat vaar het.
Aangesien daar verskeie klagtes teen die pa en seun is en die klagtes op verskillende dorpe en verskillende provinsies ingedien is gaan al die dossiere eersdaags aan die DOV (Direktoraat van openbare vervolging) oorhandig word met 'n aanbeveling dat al die sake gesentraliseer word en dan almal in die streekhof op Oudtshoorn aangehoor sal word. Intussen skakel familie en vriende die Oudtshoorn Courant gereeld met beweringe dat die twee steeds probeer om geld by familielede te kry wat hulle glo in staat sal stel om op borg uit te kom.

Daniël Zaayman
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'