OUDTSHOORN NEWS - Die polisie se Eden Cluster Youth Crime Prevention Desk het Saterdag 'n spesiale geleentheid vir 60 leerders in die Oudtshoorn-distrik gehou.
Volgens Lynnus Freeks, geleentheidsorganiseerder en programbestuurder van die Youth Desk, het hulle spesifiek leerders uit De Rust, Dysselsdorp en Oudtshoorn gekies omdat dit 'n sogenaamde rooi area vir die Eden-polisiekluster is.
"Ons as die jeug van Oudtshoorn wou die uitreik vir die kinders doen omdat ons hoop dat dit 'n platform kan word vir ons kinders waar hulle hulself wil verbeter.
"Ons hoop dat hulle geïnspireer sal word om vir hulself 'n beter toekoms te skep en dalk weer iemand anders bemoedig om dieselfde te doen.
"Die kinders is ons toekoms. Ons wil ook hulle aandag vestig op veiligheid in hul omgewing."
Die leerders wat die geleentheid bygewoon het, het elk 'n pakkie skryfbehoeftes ontvang en ook aan 'n gelukstrekking deelgeneem.
Bekende geleentheidsprekers soos Salomé Plaatjies van Plumbline Restoration en Schapiro Micheals het die kinders toegespreek.
"Moet nooit dat jou omstandighede jou terughou van die wat jy wil hê nie. Julle moet groot drome droom en weet dat julle enigiets kan doen as julle dit wil doen," het Plaatjies gesê.
Die rolspelers van die Eden Cluster Youth Desk saam met 'n aantal leerders.
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'