CALITZDORP NUUS - 'n Swaar reënbui wat Maandagaand, 12 Desember, omstreeks 20:00 in die Calitzdorp-omgewing uitgesak het, het groot skade in die dorp aangerig.
Verskeie winkels, huise en strate het verspoel en veral wonings en besighede het baie skade gely.
Volgens Andri Dare, eienaar van The Station in Calitzdorp, is die dorp se mense besig om inwoners wie se huise oorstroom het, met opruimingswerk te help. Dare, wat self ook in Queenstraat bly, sê dat daar ongeveer agt huise in dié straat is wat oorstroom het.
"Die modderwater is omtrent kniehoogte deur van die huise. Dié straat is laag geleë, wat tot die oorstroming van die huise gelei het."
Volgens haar het 'n groot deel van Calitzstraat weggespoel en is 'n dik laag modder na die oorstroming in van die huise agtergelaat.
Dare sê daar het ongeveer 70 mm reën binne minder as 'n uur geval.
Deon Kriek, voorsitter van Calitzdorp se toerisme- en inligtingsburo en lid van die Gemeenskapspolisiëringsforum, vertel dat hulle via WhatsApp-groepe tydens die oorstroming met inwoners gekommunikeer het.
"Queenstraat het erg deurgeloop, maar die bure en inwoners is almal besig om te help om die modder uit die huise te kry."
Volgens Kriek was die leiwaterkanale en die dam hoër op in die dorp na Oudtshoorn se kant toe alreeds vol leiwater wat die streek ontvang toe die wolkbreuk toegesak het.
Volgens Kannaland-munisipaliteit is Calitzstraat, wat by Wesoewerpad aansluit, en Saaymanstraat verspoel. 'n Gedeelte by die kruis van Van Riebeeck-, Voortrekker- en Queenstraat is ook onder grys en sand.
Nie net is huise met water oorstroom nie, daar was ook voertuie wat in die slag gebly het. INLAS: Motors word deur die massas water meegesleur.
Gerhard Otto, van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) se rampbestuur, het omstreeks 21:20 gewaarsku dat gedeeltes van Calitzdorp verspoel is en dat wonings op die buitewyke van die dorp ook geraak is - inwoners van hierdie wonings is na hoër areas ontruim.
Volgens GRDM-rampbestuur was die vloed die gevolg van 'n klein damwal wat meegegee het.
GRDM het 13 Desember omstreeks 06:40 laat weet dat verskeie paaie in Calitzdorp deur die vloed geraak is.
Kriek sê dat die mense van Calitzdorp hoopvol en sterk is. "Queenstraat het hierdie jaar besluit om Kersliggies in hulle straat op te hang - hulle beplan dit nog steeds ten spyte van die reën." Hulle beplan om die liggies op 16 Desember aan te skakel en 'n Kersfees-sangdiens na die tyd te hou.
Water is kniehoogte deur sommig wonings. Foto's: verskaf
'n Groot deel van Calitzstraat het weggespoel. Foto: Shaun Dare
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'