CALITZDORP NUUS - Reëlings vir Calitzdorp se Winterfees, wat van 15 tot 17 Junie plaasvind, is goed op dreef. Die tema van vanjaar se fees is Water, veral in die lig van die voortslepende droogte, wat allerweë as die ergste in 100 jaar beskou word. Die fees beloof talle nuwe hoogtepunte oor die loop van drie dae.
Optog
Vrydag 15 Junie begin die fees tussen 10:00 en 11:00 met 'n optog vanaf Die Dorpshuis tot by die Calitzdorp-stasie. Die optog gaan vir die eerste keer vlotte insluit wat die Winterfees se tema, uitbeeld, asook rieldansers, straatkarretjies en skoolkinders.
Marcia Vermaak, professionele stelbouer, bou die vlotte saam met skoolkinders. "Ek wonder nou al 'n ruk lank hoe ek te werk sal gaan as iemand my eendag vra om 'n beeldhouwerk met lee plastiekbottels te maak," sê Marcia, stelbouer van rolprente soos onder meer District Nine en The Avengers.
"Toe Zelma Kriek, my vra om 'n ontwerp te doen vir die Winterfeesparade, het ek onmiddellik belanggestel, en die uitdaging is nog groter as daar min geld is vir materiale."
Volgens Marcia het sy haar laat lei deur die tema wat vanjaar draai om water en wat ook die eeufeesviering van die bestaan van die Calitzdorp-dam insluit, "en natuurlik ook die Klein-Karoo legende van die meermin of sogenaamde watermeid," sê sy.
"Ek hoop hierdie beeldhouwerk sal mense bewus maak van hoe hulle plastiek kan herwin."
Marcia bou die geraamte van die beeldhouwerk met PVC-pype, wat oorgetrek word met 2 liter-plastiek-koeldrankbottels, waarvan altesaam 1 000 benodig word. "Ons het nog net sowat die helfte van die bottels, bymekaar gemaak," sê Erina Meiring, hoof van Calitzdorp-toerisme.
Bottels kan daagliks tussen 08:30 en 17:00 by die toerismekantoor in Voortrekkerstraat afgegee word.
Borrel-talentkompetisie
Talle inwoners het verlede week aan oudisies vir die eerste Borrel-talentkompetisie deelgeneem. "Die doel van die Borrel-kompetisie is om plaaslike talent te ontwikkel," sê Annarie Cornelius van Boplaas Kelders wat die kompetisie borg.
Volgens Cornelius, self 'n stemkunstenaar, word op individue se talent in sang, dans, komedie, instrumente en kulkuns gefokus. Daar is drie kategorieë, naamlik die Druppels (kinders tot 12 jaar oud), Poele (13 tot 18 jaar), en Damme (volwassenes bo 18).
Die week se oudisies het 10 tot 15 deelnemers in elke kategorie identifiseer. "Hulle is baie goed, veral die dansers, is al wat ek kan sê," sê Meiring."
Deelnemers tree Saterdag 16 Junie vanaf 11:15 tot 15:00 op sodat die publiek die vyf semi-finaliste in elke kategorie kan aan wys. Die finaliste word Sondag 17 Junie om 12:30 by die stasie aangewys.
Plaaslike kunstenaars
"Vanjaar tree hoofsaaklik plaaslike kunstenaars by die hooffees op," sê Meiring.
Vertonings om na uit te sien:
Vrydagmiddag 17:00-18:00 - NGK Calitzdorp: Orrelis Stan Slogrove;
Vrydagaand 18:00 vir 18:30 - Gemeenskapsete by Stasie: Annarie Cornelius;
Saterdag heeldag by die stasie - Mad Hatters;
Saterdagaand vanaf 19:00 - Straatparty Van Riebeeckstraat: Purple Domino;
Sondag 11:00-12:00 - Laatontbyt by Stasie: Annarie en gaste.
Kontak Erina Meiring by die Calitzdorp-toerisme by 044 213 3775 of tourism@calitzorp.org.za of besoek die Winterfees se webtuiste www.calitzdorpwinterfestival.co.za vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'