DYSSELSDORP NUUS - Die saak van 'n man van Dysselsdorp wat daarvan aangekla word dat hy 'n 10-jarige meisie met sy windbuks geskiet het, is in die Oudtshoorn-landdroshof van die hofrol verwyder omdat die polisie-ondersoek sloer.
Daniël Botha se regsverteenwoordiger, Johan Duvenhage, het beswaar aangeteken teen verdere uitstel van die saak.
"Die staat moet sy huis in orde kry," het Duvenhage gesê.
Botha staan tereg op aanklag van poging tot moord na hy op Kersdag 2017 op 'n groep kinders wat klappers in die straat voor sy huis geskiet het, met 'n windbuks geskiet het en die meisie getref het.
Landdros Roelf Konstabel het die saak voorlopig van die hofrol verwyder, maar Botha gewaarsku dat dit weer teruggeplaas kan word sodra die ondersoek voltooi is.
Die kind se moeder, Erika September, het haar misnoeë hieroor uitgespreek en gesê dit is onaanvaarbaar.
Volgens haar kon dokters nog nie die windbukskoeëltjie verwyder nie omdat dit op 'n sensitiewe plek naby haar kind se hart vassteek en 'n operasie moontlik haar dood kan veroorsaak.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'