In Willowmore in die Klein-Karoo is hierdie voorspelling reeds ‘n realiteit.
Die DA-beheerde Baviaans-munisipaliteit, onder leiding van burgemeester Ewald Loock, het op 23 September ‘n dringende hofinterdik teen die eienaar van ‘n plaas in die Uniondale-distrik bekom. Anelle Ekkerd, die eienaar van die plaas, Wanhoop, betwis die dorp se reg op die water wat volgens Loock deur ‘n inskrywing op die transportakte beskerm word. Die groot haakplek is, die plaas is die dorp se enigste bron van water en al die inwoners is totaal afhanklik van Wanhoop vir oorlewing.
Willowmore se water kom ‘n volle 35 km van die plaas tot op die dorp en die water word uit verskeie boorgate en uit 'n standhoudende fontein in terme van ‘n waterregte-ooreenkoms na die dorp gepomp. Die dorp se watersuiweringswerke is ook op die plaas. Dinge het egter onlangs skeef geloop toe Ekkerd 'n klep met ‘n hefboom op die hooftoevoerpyp geinstalleer het. Die pyp loop van die fontein na die waterwerke en Ekkerd het van daar haar eie pyplyn na haar dam en landerye aangelê. Met hierdie klep en hefboom kan sy die dorpswater herlei na haar besproeiingsdam en vandaar na die landerye.
Ondanks ‘n briewewisseling tussen die twee partye se prokureurs, kon hulle nie tot ‘n vergelyk kom nie en op 9 September het Ekkerd die klep en hefboom in werking gestel. Volgens Loock het die water blykbaar die hele nag teen 2 liter per sekonde geloop. "Nie alleen is die besproeiingsdam gevul nie - dit wil voorkom asof die dam die nag vir 'n geruime tyd oorgeloop het."
Loock het dadelik opdrag gegee dat hofstukke opgestel word vir 'n dringende hofaansoek.
Volgens hom sal dit chaos in die dorp veroorsaak sou Ekkerd toegelaat word om voort te gaan met dié praktyk aangesien daar reeds nie voldoende water vir die inwoners se gebruik gepomp word nie. "Dit is reeds vir baie jare ‘n fyn kuns om Willowmore se watersituasie te bestuur. Dit word bloedig warm in die somer en ons het ‘n relatief groot gemeenskap in vergelyking met die wateraanbod."
Willowmore huisves sowat 10 000 mense en die aanbod is slegs 16 liter per sekonde. "Die verbruik styg tot 20 liter per sekonde in die somer en is die drie reservoirs van 1000 kiloliter elk, van kardinale belang."
Willowmore trek al vir bykans 50 jaar sy watervoorraad van Wanhoop. In die verlede het die munisipaliteit die plaas besit, maar later verkoop met voorbehoud van die waterregte. Alle eienaars daarna het die regte respekteer, tot die plaas verlede jaar van hande verwissel het. Ekkerd mag, in terme van die tydelike hofbevel, geen water uit die dorp se pypleiding trek nie. Die munisipaliteit het egter aangebied om elke maand 30 kiloliter water vir huishoudelike gebruik aan haar te voorsien.
Advokaat Andre Knoetze van die Johannesburg-balie het die saak in Kaapstad namens die munisipaliteit gaan argumenteer. Die tussentydse hofbevel is deur waarnemende regter Van Staden toegestaan en die saak is tot 4 November uitgestel, wanneer Ekkerd redes moet verskaf hoekom die bevel nie finaal gemaak moet word nie.
Ekkerd se prokureur, Gerhard Lauss van Japie van Zyl Prokureurs in Schweizer-Reneke, wou nie kommentaar lewer nie, aangesien die saak reeds voor die hof is.
.jpg)
Die besproeiingsdam op Wanhoop waarin Anelle Ekkerd die water van die dorp pyplyn gepomp het.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS