PRINS ALBERT NUUS - 'n Staking van werkers van die Spar op Prins Albert het verlede week tot klagtes van aanranding gelei.
Veertien vaste werkers van die kruidenierswinkel staak sedert verlede Maandag weens 'n ongelukkigheid oor diensvoorwaardes.
Verlede Woensdag het die staking handuit geruk toe van die stakers en twee klante by die ingang van die winkel handgemeen geraak het. Albei partye het aanrandingsklagtes teen die ander by die polisie gelê.
Die staking kom weens 'n groeiende woede onder sekere personeellede sedert die winkel – voorheen 'n OK-tak – in Mei verlede jaar deur Spar oorgeneem is.
Die werkers het aan Oudtshoorn Courant gesê onder OK-bestuur was dit vir hulle "'n beter bedeling" en dat die huidige bestuur diensvoorwaardes onmiddellik ná oorname "eensydig, sonder onderhandeling," verander het.
Gerrit Willemse van George, 'n lid van die Suid-Kaapse tak van Numsa, wat as woordvoerder vir die groep optree, het Dinsdag gesê die werkers is ná die oorname onmiddellik 'n nuwe dienskontrak aangebied.
"Die maatskappy het toe bevestig dat die werkers se diensjare oorgedra word, wat ook beteken diensvoorwaardes word oorgedra. Maar toe word werksure, werksroosters, oortyd- en vakansiedagbetaling, die betaling van uniforms en berekening van salarisse sonder onderhandeling verander. OK het die werkers byvoorbeeld méér as dubbel betaal vir vakansiedae – Spar betaal net dubbel."
Hy sê hulle het deur verskeie prosesse, onder andere 'n dispuut by die Kommissie vir bemiddeling versoening en arbitrasie (KBVA), probeer om die probleem op te los. Volgens hom het alle onderhandelings die afgelope ses maande egter op 'n dooie punt uitgeloop.
Volgens Willemse word die stakers sedert 4 September nie betaal nie.
Reaksie van Ferdi Coetzee, eienaar van Spar
"Dis onwaar dat die werkers 'n 'beter bedeling' onder OK gehad het. Spar het werkers se afdae vermeerder van OK se drie per maand na vyf. Hulle salarisse is oor die afgelope agttien maande verhoog met gemiddel 20% per persoon. Onder OK-beleid is hulle betaal volgens die groothandel- en kleinhandel-sektor se minimum-loontabel. By Spar verdien hulle heelwat meer."
Coetzee sê by oorname van ondernemings moet 'n nuwe dienskontrak aan personeel gegee word. "Hulle werk nou minder ure as by OK – gemiddeld 190 uur per maand, maar hulle word vir 195 ure betaal. Voorts het operasionele vereistes ons genoop om die skofte van die personeel te verander. Dit het twee maande ná oorname gebeur. Die werkers is daaroor ingelig.
"Die winkel is, as Spar, 4,5 ure per week langer oop. Oortyd- en vakansiegeld word streng volgens die wet betaal."
"Vele gesprekke is met die personeel wat 'n probleem gehad het gevoer. Ek het twee keer die arbeidsdepartement genader om verteenwoordigers te stuur om die wet te verduidelik."
Spar en sy bestuur aanvaar dat dit 'n beskermde staking is, sê Coetzee. "
Coetzee het talle e-posse tussen die Spar-bestuur en Numsa-verteenwoordigers om vergaderings te reël aan Oudsthoorn Courant verskaf.
ARTIKEL EN FOTO: MARLENE MALAN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'