Die groot groep was deel van altesaam 600 werkers wat gedurende Januarie vir 16 dae in spanne gewerk het om Oudtshoorn skoon te maak en verlede week deur 'n provinsiale kantoor meegedeel is dat daar probleme is met die uitbetaal van hulle lone. Hulle het daarop aangedring om met Greg Baartman, die bestuurder van plaaslike ekonomiese ontwikkeling te praat.
Die groot betoging van Donderdag is voorafgegaan deur 'n kleiner groep wat, gewapen met tuingereedskap, voor die munisipaliteit saamgedrom het.
Dit blyk dat 50 mense uit elk van die 13 wyke in Oudtshoorn aangestel is as tydelike werkers en hulle sou Donderdag hulle lone vir 16 dae se werk teen R67 per dag ontvang. Hulle is egter per brief meegedeel dat daar probleme is met die administrasie en dat hulle eers in Februarie betaal sou word.
Die ontstoke groep het Donderdag gedreig om die munisipale kantore te beset, maar Baartman het ingestem om met die toesighouers van die 13 wyke te vergader en daarin geslaag om die situasie tot 'n groot mate te ontlont. Ongeveer dertig afgevaardigdes is in die raadsaal geleentheid gegun om hulle griewe te lig en 'n verduideliking aan te hoor.
Baartman het verduidelik dat die munisipaliteit bloot die fasiliteerder van die projek is wat moes toesien dat ongeveer 600 mense geïdentifiseer en aangestel moes word en dat hulle persoonlike- en bankbesonderhede aan die relevante provinsiale afdeling wat die projek befonds, deurgegee moes word. Volgens korrespondensie blyk dit dat daar probleme was met sommige mense se inligting en dat die provinsiale departement dit eers moes regstel voordat uitbetalings gemaak kon word.
Die toesighouers was briesend aangesien hulle aanvoer dat hulle elke werker se besonderhede noukeurig nagegaan en korrek deurgegee het. Gemoedere het hoog geloop en van die toesighouers het daarop aangedring dat die werkers se gelde teen Vrydag 1 Februarie betaal moes word.
Baartman het verduidelik dat die munisipaliteit aangebied het om die werkers voorlopig te betaal op voorwaarde dat die staat die munisipaliteit dan weer terugbetaal. Die aanbod is egter deur die betrokke staatsdepartement van die hand gewys. In 'n brief, gerig aan Baartman, het die departement verduidelik dat die projek nie voorsiening maak vir die voorlopige betaling deur 'n derde party nie, maar dat betaling binne hierdie week sou geskied.
'n Groot groep werkers het Vrydag weer voor die munisipaliteit vergader, maar moes later onverrigte sake uitmekaargaan. Baartman het Woensdag bevestig dat al die werkers, behalwe 43 waarvan bankbesonderhede verkeerd was, Maandag betaal is. Verteenwoordigers van die provinsie was Woensdag in Oudtshoorn om die 43 te help om hul besonderhede op datum te kry sodat hulle ook betaal kon word.
Die onderburgemeester, Vlancio Donson (links), Greg Baartman en Bradley Bernardus (kantoorbestuurder van die onderburgemeester) het die werkers se toesighouers in die raadsaal toegespreek en verduidelik waarom daar met die betaling van lone gesloer word.