OUDTSHOORN NUUS - 'n Polisiebeampte in die Oudtshoorn-landdroshof is groot dank verskuldig aan twee vroue wat sy beursie met al sy kaarte en byna R5 000 aan hom terugbesorg het.
Volgens ao. Morkel Boshoff was hy en sy ma Saterdagoggend, met sy drie honde op die bakkie, op pad om inkopies te doen. In Condorstraat het hy verby 'n vrou met 'n groot hond gery waarna sy honde erg tekere gegaan het.
"Ek het stilgehou om hulle te kalmeer en moes daar my beursie verloor het, want toe ek vir 'n sak hondekos wou betaal was dit weg," vertel Boshoff.
"Ek het dadelik teruggery tot waar ek in Condorstraat stilgehou het, maar niks gevind nie en dit toe by die polisie aangemeld."
Hy was verheug toe hy later die oggend 'n boodskap kry dat iemand sy beursie opgetel het. Belinda Muller en Leonie Stuurman, wat gereeld soggens gaan draf, vertel dat hulle die beursie in Condorstraat sien lê het en dit opgetel het.
Muller het dit in die mou van haar trui weggesteek toe sy drie mans aangestap sien kom. Sy was bang dat hulle die beursie sou afneem indien hulle dit sien.
Sy het 'n foto van Boshoff se ID op Oudtshoorn-parkrun se WhatsApp-groep geplaas en daar uitgevind waar hy woon. Boshoff het Dinsdag gesê hy kan nou nog nie glo dat hy sy beursie met al sy geld, bankkaarte, bestuurderslisensie en ID teruggekry het nie.
"Ek is daai twee mense innig dankbaar en wou hulle vergoed, maar hulle het geweier. Hulle het uiteindelik 'n bedraggie aanvaar om 'n koffietjie iewers te gaan drink," vertel 'n dankbare Boshoff.
Leonie Struurman en Belinda Muller.
'Ons bring jou die nuuuste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'