OUDTSHOORN NUUS - In die moderne samelewing waar aanlyn verkope, elektroniese transaksies, elektroniese kontantlose oorplasings en nog vele meer aan die orde van die dag is gebeur dit al hoe meer dat bedrog plaasvind.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die week in 'n verklaring gesê hulle het na die afgelope vier maande se aanmelding van bedrogverwante voorvalle gaan kyk.
"Die helfte van die voorvalle wat aangemeld word is mense wat op Facebook of elders op die internet aankope gedoen het en nie die produk ontvang het nie. Hulle het dan reeds daarvoor betaal of 'n deposito daarvoor betaal.
Daar is egter so baie ander maniere wat bedrog kan plaasvind en dit is onmoontlik om almal te lys. Wat wel duidelik is, is dat mense baie maklik oorreed word om geld te betaal as hulle dink hulle gaan iets terugkry of wen. Jy kan nooit geld betaal om geld te kry wat jy gewen het nie en ook nie om 'n lening te bekom nie."
Volgens Visser gebeur dit ook dat mense geld stuur deur middel van kettingwinkels wat dan onttrek kan word met 'n PIN-nommer.
"Bewaar die PIN en onttrek die geld so vining moontlik. Banke waarsku ook gereeld hulle kliënte dat hulle onder geen omstandighede bankbesonderhede telefonies sal nagaan nie en nooit 'n persoon se PIN sal vra nie. Wees baie versigtig en moet nooit jou bankbesonderhede telefonies aan iemand verskaf wat jy nie ken nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'