OUDTSHOORN NUUS - 'n Weermagsersant wat aan dronkbestuur skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-landdroshof 'n stywe boete en opgeskorte vonnis opgelê.
Sipho Mvito (56) is daaraan skuldig bevind dat hy 'n voertuig bestuur het terwyl sy bloedalkoholvlak vier keer hoër was as die toegelate vlak van 0,05 gram per 100 ml.
Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het die hof meegedeel dat Mvito geen relevante vorige veroordelings het nie, skuldig gepleit het en nie die hof se tyd gemors nie. Hy het ook sy volle samewerking aan die polisie gegee.
Mvito se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst het gesê sy kliënt besef dat die tronkdeure vir hom oop staan indien hy weer misdaad pleeg. Hy het ook die hof versoek om nie Mvito se rybewys op te skort nie.
Hy het twee vorige veroordelings en is al 33 jaar verbonde aan die weermag met 'n goeie inkomste.
Waarnemende landdros René Gerber, het met vonnisoplegging in ag geneem dat Mvito skuldig gepleit het en gelukkig vir hom nie in 'n ongeluk betrokke was waar iemand beseer of skade berokken is nie. Hy het aan Mvito gesê om hom voortaan soos 'n soldaat te gedra en op te hou om saam met maters te drink en dan 'n voertuig te bestuur.
"U is nie by 'n drankkompetisie nie," het die landdros gesê.
Mvito is gevonnis tot 'n boete van R4 000 of twee jaar gevangenisstraf waarvan die helfte voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Die oortreding regverdig egter nie die opskorting van die beskuldigde se rybewys nie, het die landdros bevind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'