OUDTSHOORN NUUS - Waterbesparingsmaatreëls vir Oudtshoorn, is Woensdag 4 Oktober deur die munisipale raad goedgekeur. Dié maatreëls is met onmiddelike effek van krag.
Alhoewel die Raubenheimerdam se vlak die afgelope twee weke vanaf 48% tot 62% gestyg het, is daar besluit op waterbesparingsmaatreëls.
Die direkteur tegniese dienste, Chris Koch, het in sy motivering vir die besparings-maatreëls gesê: "Oudtshoorn, soos die res van die Wes-Kaap, gaan tans onder die ergste droogte in bykans 30-jaar gebuk. "Die reënseisoen het minder water as gewoonlik in die opvangsgebied opgelewer. Die warm maande is op hande en die Koos Raubenheimerdam se watervlak is besig om teen 'n geweldige tempo te daal."
Die onmiddelike besparingsmaatreëls is as volg:
Munisipale swembaddens sal eers op 1 November amptelik oopmaak. Slegs een geskeduleerde swembyeenkoms vir 21 en 22 Oktober sal toegelaat word.
Die gebruik van drinkwater vir die doel om tuine, grasperke en publieke oop ruimtes word tot 'n maksimum van een uur per dag beperk. Die uur se watergebruik mag slegs tussen 07:00 en 10:00 soggens en 18:00 en 19:00 saans plaasvind.
Kwekerye, groentetuine, sportstadions, gholfbane en krieketvelde is vrygestel van die beperking van een uur per dag.
Die besproeing van groentetuine mag slegs vir een uur tussen 10:00 en 18:00 plaasvind.
Tuinslange mag nie gebruik word vir die was van motors of meng van sement en teer nie. Besighede wat in die sement en teerbedryf is, is hiervan uitgesluit.
Die Klein Karoo Watervoorsieningsskema se drinkbare water mag slegs vir menslike en diere-gebruik aangewend word.
'n Verbod is geplaas op die gebruik van dié water vir besproeiing, natlei van tuine, grasperke, parkies en openbare areas. Voertuie mag ook nie daarmee gewas word nie en dit mag ook nie gebruik word om geplaveide areas en ander strukture nat te maak nie.
Oudtshoorniete word ook aangemoedig om sover moontlik van hul eie gryswater (bad-, stort- en wasmasjienwater) gebruik te maak om tuine nat te lei.
Waar boorgatwater gebruik word, moet duidelik op 'n kennisgewing aangedui word, 'Boorgatwater'.
Maatreëls wat intree as watervlak daal
Verdere maatreëls sal in drie fases ingestel word indien die damvlak tot by 50% en laer daal. Die tariefverhogings vir dié drie fases is 10% (fase 1), 30% (fase 2) en 75% (fase 3), met die gebruik van meer as 6 000 liter per huishouding per maand.
Die waterbesparingsmaatreëls, asook die drie fases tariefverhogings, sal volgens munisipale speaker, Julia le Roux Krowitz aanstaande week as kennisgewings in koerante gepubliseer word.
Dit sal vanaf Maandag 9 Oktober tydens vergaderings in elke munisipale wyk afgekondig word.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'