OUDTSHOORN NUUS - Die South African Water Warriors het Dinsdagoggend by Cape Karoo Ostrich Emporium 65 geskenkboksies aan sowat 40 boervroue van omliggende plase geskenk.
Die skenking is deel van dié organisasie se landswye veldtog om slagoffers van die droogte te herinner dat daar iemand is wat nog omgee en lief is vir hulle.
Die boervroue sal dit dan op hul beurt aan hulle werkers uitdeel waar hulle die nood identifiseer. Dinsdag se uitreiking was die derde keer vanjaar dat Water Warriors skenkings na Oudtshoorn bring..
Die boksies is gevul en geskenk deur inwoners van Groenkloof by Reebok, Die Huiskring Bybelstudiegroep in Fraaiuitsig) en ook deur mense van so ver as Tabazimbi, Botswana, Lichtenburg en selfs Australië.
Volgens Pieter du Plessis, koördineerder van dié projek, kom elke geskenkboksie met 'n bemoedigende boodskap en kontakbesonderhede om hoop deur middel van gebed te verskaf waar nodig.
In sy toespraak het hy gesê dat Water Warriors maar al te goed besef dat daar nie 'n kitsuitkoms vir die gemeenskap uit hul omstandighede is nie. "Wat wel belangrik is, is die wete dat daar wel iemand is wat hulle ontferm."
"Hierdie klein gebaar verskaf broodnodige hoop wat van groot sielkundige waarde op die einde van die dag is," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'