OUDTSHOORN NUUS - Die South African Water Warriors het Saterdagoggend met twee konvooie, een van die Kaap en een vanaf George, kruideniersware, honde- en katkos, voer vir plaasdiere, bottels water en lekkergoed op Oudtshoorn aangekom.
Die konvooi het eers deur die dorp gery en toe die kos op 'n plaas op die Rooiheuwel-pad afgelaai en verdeel.
Ten spyte van yskoue reënweer was die dag 'n reusesukses en het tientalle mense en kinders met die aflaai hand bygesit.
Pieter du Plessis, die organiseerder van die projek, sê dit is ongelooflik om te sien hoeveel mense gekom het om hulle te help om van die dag 'n sukses te maak.
"Te danke aan barmhartige samaritane wat hul harte oopgemaak het, kon ons 24 ton bale, 34 ton mielies, 1,5 ton hoenderkos, 250 kg hondekos, 30 ton groente en kruideniersware, 3 500 liter water en 34 ton makataan aan die boere van Oudtshoorn gee.
Pretoria FM het ook gehelp en ons kon 'n verdere 6 500 liter water en 700 kg-kruideniers insamel. Met al die skenkings kon ons ongeveer 100 plaasgesinne in die Oudtshoorn-omgewing help."
Die Water Warriors het ook in April vanjaar 8 ton kos na Oudtshoorn gebring.
Die Water Warriors se volgende groot projek gaan in Boesmanland wees. Vir verdere inligting oor hulle skakel vir Du Plessis by 076 844 6435.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'