OUDTSHOORN NUUS - Die Kaapse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (Kaapjag) het verlede week 'n grootse poging aangewend om water vir die bergsebras in die Kamanassie-natuurreservaat by Uniondale te verskaf.
"Ons het 'n sonkrag waterpomp aan CapeNature geskenk en Roto Tank in Moorreesburg het 'n 5000 l watertenk geskenk," sê Gustav Smit, bewaringsbeampte van Kaapjag.
"Ons kan nie toelaat dat die bergsebras en ander diere vrek van die dors terwyl ons dit kan verhelp nie. Daar is 'n boorgat, maar daar was nie 'n pomp nie.
"Ons gaan ook sorg dat 'n krip met 'n vlotterklep gebou word sodat die bergkwaggas en die ander wild, water het."
Volgens Smit is Kaapjag verbind tot bewaring omdat die twee hand aan hand gaan.
"As dit nie vir jagters was nie, was daar nie vandag soveel wild beskikbaar nie," sê hy.
"Ongeveer dertig jaar gelede is die ekonomiese waarde van wild begin insien en die diere begin bewaar.
"Jag is die volhoubare benutting van wild, wat daartoe gelei het dat daar vandag sowat 18 miljoen wilde diere in die land bestaan, waarvan 12 miljoen in privaat besit is.
"Tans is wildgetalle groter as veegetalle."
Die troppie van 42 Kaapse bergkwaggas is een van drie troppe wat oor is van die duisende wat eens hier voorgekom het.
Hul getalle is jare gelede feitlik uitgewis deur meedoënlose jagters wat hulle vir die pot geskiet het.
'n Klein troppie het in die omgewing van Cradock in die Oos-Kaap oorgebly en later die kern gevorm van die destydse Nasionale Parkeraad se Bergkwagga Nasionale Park.
Nog 'n troppie kom in CapeNature se Gamkaberg-natuurreservaat in die Rooiberg tussen Oudtshoorn en Calitzdorp voor.
Die getalle het van slegs sowat 'n dosyn aangegroei tot ongeveer 5000, waarvan heelwat in privaat besit is.
Die bergsebras word onderskei van Burchell se sebras of vlaktesebras deur die afwesigheid van 'n skadustreep op die wit strepe tussen die swart strepe, en die bergsebra se strepe strek nie tot onder die maag nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'