Update
OUDTSHOORN NUUS - Die bestuurder van 'n vragmotor wat Dinsdagmiddag in Meiringspoort omgeslaan het sê, hy en sy passasier is gelukkig om met slegs 'n paar beserings uit die trok te kon klim.
Herman Groenewald, wat vanaf Kimberley na Riversdal onderweg was, het Dinsdag op die toneel vertel dat hy skaars 50 km/h gery het toe die ongeluk gebeur het.
"Die bale hawer wat op die trok was, is baie glad. Toe ek om die draai gaan het die vrag begin skuif.
"Ek het in my spieël gesien die vrag kantel en die sleepwa begin oorhel. Toe het ek geweet ons gaan omval."
Die vragmotor het op die linkersy te lande gekom op die draai tussen Wasgatdrif en Bloupuntdrif in Meiringspoort. Groenewald het verskeie snymerke en kneusplekke opgedoen.
Die passasier het 'n gebreekte sleutelbeen en snywonde opgedoen en is per ambulans na die Oudtshoorn-hospitaal geneem.
Groenewald het aangedui dat hy ook hospitaal toe sou gaan vir waarneming nadat 'n insleepdiens die vragmotor verwyder het en die voer op 'n ander vragmotor gelaai is.
Die ongeluk het plaasgevind ongeveer 20m vanaf die plek waar 'n tenkwa met diesel 'n aantal maande gelede omgeslaan het.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Vragmotor slaan om in Meiringspoort
ARTIKEL, VIDEO & FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'