Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die Oudtshoorn Courant het verskeie vrae ontvang rondom die identiteit van die pastoor wat hierdie week in die hof verskyn het op klagtes van verkragting en seksuele aanranding van minderjariges.
Die situasie rondom die bekendmaking van iemand se identiteit word deur die wet voorgeskryf, maar afwykings kom soms voor onder bepaalde omstandighede.
Hierdie is die wetlike riglyne wat koerante volg:
‘n Verdagte se naam mag nie bekendgemaak word voordat hy of sy amptelik in ‘n hof verskyn en aangekla word nie – dan is die persoon nie meer ‘n verdagte nie, maar ‘n beskuldigde.
In sommige gevalle waar ander faktore ‘n rol speel gebeur dit soms dat verdagtes se name bekendgemaak word om hulle op te spoor. Dit was byvoorbeeld die geval van die twee mense wat met Badenhorst slaghuis se voertuig en geld verdwyn het. Daar was nie berig dat hulle gesoek word vir diefstal nie, bloot dat daar dringend na hulle gesoek word.
In die geval van seksuele oortredings vereis die wet egter ‘n verdere stap. Die beskuldigde moet eers skuldig of onskuldig op die klag pleit voordat sy naam bekend gemaak mag word.
In die pastoor se geval het hy wel verskyn vir ‘n borgtogaansoek, maar hy is nog nie gevra om te pleit nie.
Sodra dit gebeur het mag sy naam bekendgemaak word.
Daar is egter ook ‘n verdere voorwaarde hieraan verbonde: Geen slagoffer van seksuele misdade se identiteit mag sonder toestemming bekend gemaak word nie en minderjarige slagoffers se identiteit mag glad nie bekend gemaak word nie.
Dit beteken dus dat ‘n oortreder se identiteit in sommige gevalle ook sy slagoffers kan identifiseer en dan sal ons nie die oortreder bekendmaak nie. Hier is ook uitsonderings soos in die geval van die Dros-verkragting van die meisie.
Die verdagte se foto’s en identiteit was wyd op sosiale media versprei voordat dit in die koerante was. Sommige koerante het toe besluit om sy identiteit bekend te maak terwyl ander besluit het om dit nie te doen nie.
Die bekendmaking van iemand se identiteit is dus nie iets wat op die ingewing van die oomblik gedoen word nie.
Koerante volg spesifieke riglyne wat deur die perskode voorgeskryf word.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste OUdtshoorn, Klein Karoo nuus'