OUDTSHOORN NUUS - 'n Sekerheidswag (45) van Blacklist Sekuriteit is Vrydagaand, 2 Desember, by Badenhorst-slaghuis in Randstraat, deur twee persone aangeval.
Die wag was besig met sy voetpatrollie en wou die palissadehek agter hom sluit, toe die twee persone die hek oopdruk. Hulle het hom herhaaldelik met 'n stok oor sy lyf en kop begin slaan.
Harry Coetzee, eienaar van Blacklist Sekuriteit vertel dat die aanvallers die wag vir 'n geruime tyd dopgehou het en vir die regte oomblik gewag het om hom aan te val.
"Hulle was vermoedelik agter sy selfoon aan, maar hy het sy selfoon op die toilet se muur gesit voor hy geloop het."
Coetzee vertel dat hulle die roepradio gegryp en stukkend gegooi het. Net 'n bos sleutels is by hom gesteel - na die voorval is al die slotte vervang.
Blacklist Sekuriteit patrolleer hierdie area al vir sewe jaar. Hulle het onlangs die wag se stasie van Badenhorst-slaghuis na Crazy Liquor drankwinkel aan die oorkant van die pad geskuif.
Die rede hiervoor is omdat die braaihout en kratte in die drankwinkel se palissade-hok gesteel word.
Coetzee is dankbaar vir die polisie se vinnige reaksietyd van ongeveer 30 sekondes - hulle was reeds in die area. Hy self het kaalvoet in sy voertuig gespring en homself na die toneel gehaas toe Blacklist se radiokamer hom in kennis gestel het van die aanval. Hy vertel dat die polisie alreeds op die toneel was toe hy opgedaag het. Volgens Coetzee was die wag se kop erg bebloed en het hy gesê dat hy die aanvallers glad nie gesien het nie.
Die wag is vir die volgende week afgeboek en sterk aan by die huis. Volgens Coetzee het hy 'n diep kopwond aan die linkerkant met agt steke.
Op hierdie stadium is die aanvallers nog op soek en enigiemand met inligting rakende die identiteit van die persone kan 084 455 3327 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'