Die tehuis is op 1 Desember 1966 gestig. Tans word omgesien na 49 inwoners in kamers van die tehuis en 12 inwoners in woonstelle.
Sorg word gebied aan Alzheimer en demensielyers, verstandelike gestremdes, liggaamlike gestremdes, verswakte bejaardes en gedeeltelik verswakte bejaardes.
Hierdie jaar moes die tehuis planne beraam om stygende voedselkostes en stygende kostes van munisipale dienste te bowe te kom.
"Ek is so dankbaar vir ons wonderlike personeel. Die mense wat by Vygieshof werk is weklikwaar toegewyd. Sonder hulle sou die taak onmoontlik gewees het."
Woonstelhuurders ontvang een ete per dag asook weeklikse skoonmaakdienste en wasgoeddienste. Inwoners van die tehuis ontvang drie etes per dag, daaglikse skoonmaakdienste, daaglikse wasgoeddienste, `n weeklikse dokterskliniek asook hulp met bad, skeer, aantrek, doeke, toiletgebruik, kateters, bedwasse, mondhigiëne, haarversorging, eet, naelversorging, buisvoedings en beweging na gelag van die persoon se verswakking.
Rekreasie aktiwiteite sluit in sang en handversorging, oefeninge met `n fisioterapeut, berading en biblioteekdienste, bingo en `n haarsalon en DVD's. Maandelikse inkopietogte na Oudtshoorn is ook een van die hoogtepunte en die Oudtshoorn Vryburgers bied jaarliks `n braai-ete aan vir die inwoners.
`n Groep vrywilligers, onder leiding van Dais Geyser, bedryf die Vygies Emporium, `n winkel aangrensend aan die tehuis waar verskeie klere-items en artikels wat van skenkers ontvang word vir spotgoedkoop gekoop kan word.
"Selde word iets vir meer as R5 verkoop," vertel Geyser. "Ons hoofdoel is om geld in te samel vir die tehuis, maar ons is ook deel van die breër gemeenskap en probeer om op hierdie wyse `n bydrae te lewer." Hulle is egter afhanklik van skenkings van die gemeenskap.
"Mense moet weet dat enige iets vir ons van nut kan wees. `n Piering sonder `n koppie of `n ou kledingstuk kan altyd weer van die hand gesit word."
Donasies van vars groente en vrugte, volstruiseiers, komberse, linne, kussings, klere en nagklere, skoene en pantoffels, wol, legkaarte, DVD's, CD's, speelgoed, vrywilligers wat by aktiwiteitsprogramme behulpsaam kan wees.
Die jaarlikse druiwepluk en wingerdetes is ook een van die hoogtepunte op Vygieshof se kalender.
Van Februarie tot Maart kan mense De Krans Kelders se Hanepoot-wingerde invaar en self stroopsoet druiwe pluk. Vygieshof bedien in die tyd `n heerlike braaivleisete op Woensdae en Saterdae. Bessie of Helet kan geskakel word by 044 2133 314 / 562 vir meer inligting.

Vygieshof se personeel by twee van hul oudste inwoners, Lenie Geyser (95 jaar) en Tom Engelbrecht (101 jaar).
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp | Klein-Karoo nuus'