OUDTSHOORN NUUS: ‘n Man van Dysselsdorp wat aan verkragting en seksuele aanranding van twee jong vroue skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Andries Smit het die aand van 30 Oktober 2022 ‘n vrou in ’n straat in Dysselsdorp van agter aan haar hare gegryp en na ‘n leë erf gesleep waar hy haar aangerand en verkrag het. Die vrou het getuig sy het tot God geroep en gevra dat Smit haar nie moet doodmaak nie omdat sy ‘n kind het.
In die tweede voorval op 9 Desember 2022 het Smit sy slagoffer ook van agter om die nek gegryp, op die grond neergegooi en bo-op haar gaan sit. Sy het om hulp geskree omdat sy gevrees het sy gaan verkrag word.
Vyf mans het tot haar redding gekom toe hulle Smit van haar geruk en hy weggehardloop het.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging van Smit gesê dat hy ten spyte van verdoemende getuienis steeds onskuldig gepleit en geen berou toon nie. Verswarend is sy lang lys vorige veroordelings en die feit dat hy nie ‘n kondoom gebruik het nie.
Hy is tot 12 jaar vir verkragting en drie jaar vir seksuele aanranding gevonnis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’