OUDTSHOORN NUUS - Die ouers van 'n vyfjarige meisie, Chantey Vertyn, is verpletter na sy verlede week op die sementpad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp doodgery is. Chantey het saam met maatjies van Gamka-Oos na Tiemiekamp geloop en is doodgery toe sy probeer het om die pad oor te steek.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het by navraag gesê die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
"Toe die polisie by die toneel opdaag is die slagoffer met veelvuldige beserings aangetref. Mediese personeel het haar op die toneel dood verklaar. Die saak word ondersoek."
Chantey se pa het gesê toe hy die tyding ontvang was dit ongelooflik seer.
"Die skok is steeds erg. Ek kon niks slaap nie. Ek kan dit nie glo nie."
Haar ma, Soufie Vertyn, sê haar hele lewe is deurmekaar gegooi. "Hier is iemand uit ons huis weggeruk. Haar klere en haar bedjie sal ons altyd herinner aan haar. Ons sal haar stemmetjie mis. Sy kon baie praat. Dis nog te baie seer om oor die ongeluk te praat. Ons was vyf. Nou is daar net vier oor."
Jacob Willemse, 'n buurtwaglid wat op die toneel was het aan Oudtshoorn Courant gesê die familie kort dringend berading.
"As geharde man was dit te erg om in detail hieroor te praat. Ek kan vir hierdie familie net Psalm 23 gee. Al gaan die seer nie gou weg nie, kan die familie net hieraan vashou."