OUDTSHOORN NUUS - Wat het Donald Trump se verkiesingsveldtog en Oudtshoorn in gemeen? Moontlik 'n volstruisleerbaadjie van Paul Manafort, voormalige voorsitter van President Trump se verkiesingsveldtog.
Manafort word tans in Amerika aangekla van bedrog en 'n peperduur volstruisleerbaadjie wat hy aangekoop het, was deel van die staatsaanklaer se openingsrede in die hof in Virginia. Manafort het glo R200 000 ($15 000) opgedok vir die baadjie, berig Business Insider Suid-Afrika.
Volgens die aanklaer moes Manafort die baadjie eerder in Suid-Afrika gekoop het waar dit hom minder as R40 000 uit die sak sou jaag. Volgens Business Insider is dit nie bekend wie die baadjie aan Manafort verkoop het nie, maar die kanse is goed dat die baadjie uit Suid-Afrika kom.
"Suid-Afrika is die wêreldleier in volstruisproduksie en besit 'n 75%-aandeel van die wêreldmark. Sowat 90% van Suid-Afrikaanse volstruisvleis en -produkte word uitgevoer en die bedryf het verlede jaar sowat R58 miljoen verdien," berig die nuusdiens.
Volgens Mariska Coetzee, 'n woordvoerder van die eksotiese leervervaardiger, Cavalli, kos 'n ekstra-groot mans-volstruisleer-baadjie in Suid-Afrika sowat R38 000.
"Volstruisleer word beskou as 'n kosbare materiaal en nie almal kan dit bekostig nie. Dit is selfs duurder as luislang- of anakondaleer, en is die derde duurste leer ná krokodil en alligator (kaaiman)," het Coetzee gesê. Volgens haar verskaf een volstruis meer as 4 m leer, maar dis nie waar nie.
"'n Groot volstruis verskaf sowat 1 vierkante meter leer, maar die gesogte knoppiestekstuur kom nie oor die hele oppervlak voor nie," sê Ludwig Aling van Ostrich International se volstruisleerboetiek op Oudtshoorn.
As Paul Manafort die baadjie direk in Oudtshoorn gekoop het, sou dit hom 'n skamele R17 000 gekos het.
Dit blyk dat Manafort selfs teen R38 000 té veel vir sy baadjie sou betaal het. As hy hom direk in Oudtshoorn gekoop het sou dit hom 'n skamele R17 000 gekos het. Dit is wat baadjies soortgelyk aan Manafort se ekstragroot donkerbruin volstruisleerbaadjie wat deur Ostrich International op Oudtshoorn vir die Bernini-mansmode-reeks van Amerika vervaardig is, kos.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'