UNIONDALE NUUS - Ongeveer 60 vroue het Maandag 2 Desember, by die landdroshof op Uniondale wit strikkies gedra het ter ondersteuning van 'n vrou wat 'n saak van aanranding teen 'n man met wie sy in 'n verhouding was, gemaak het.
Die verhoor van 'n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer, het Maandag voor landdros Z Deyce begin.
Lees 'n vorige artikel: Uniondales pak hof vol
Adri Visser het getuig dat Jacques Gordon, met wie sy in 'n verhouding was, haar op Vrouedag, 9 Augustus, van agter gegryp en teen 'n kombuiskas gegooi het. Sy het verskeie kneusplekke opgedoen en 'n aantal weke later ontdek dat haar gewrig in die voorval gebreek is. Volgens haar getuienis het sy Gordon gekonfronteer oor bewyse wat sy ontdek het dat hy tik in die huis gebruik. Sy het glo twee glashouers in 'n vullissak ontdek wat tekens getoon het dat dit gebruik was om tik te rook.
Volgens haar wou sy 'n foto van die een houer neem toe Gordon haar glo gegryp en teen die kas geslinger het. Sy het die verhouding verbreek en uit die woonplek getrek wat hulle gedeel het.
Gordon se regsverteenwoordiger G.G. Hough het tydens kruisondervraging gesê sy kliënt sal in sy getuienis ontken dat hy 'n tikgebruiker is en ook dat hy haar aangerand het.
Volgens hom sal Gordon getuig dat hy en Visser in mekaar vasgehardloop het toe hulle al twee 'n selfoon wat op 'n kas gelê het probeer gryp en dat Visser toe teen die kas geval het.
Hough het ook gesê dat mense met wie Visser telefonies voor en na die voorval gepraat het, se weergawe van die gebeure van haar getuienis verskil.
Die een getuie is Gordon se ma en die ander getuie is 'n werknemer van die onderneming waar Gordon 'n bestuurder is.
In reaksie hierop het Visser gesê dat Gordon reeds aan die begin van hulle verhouding erken het dat hy tik gebruik en dat hy dit glo gebruik omdat CAT nie in Uniondale verkrygbaar is nie.
Sy het gesê dat haar selfoonrekords en foto's op haar selfoon haar weergawe van mense met wie sy gepraat het en die voorval waar sy teen die kas beland het, sal bevestig. Deyce het die hofverrigtinge verdaag en daar sou Woensdag 4 Desember, 'n datum bepaal word vir die voortsetting van die verhoor volgende jaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'