UNIONDALE NUUS - Ongeveer 60 vroue het Maandag 2 Desember, by die landdroshof op Uniondale wit strikkies gedra ter ondersteuning van 'n vrou wat 'n saak van aanranding teen 'n man met wie sy in 'n verhouding was, gemaak het. Die saak het verlede Maandag voor landdros Z Deyce begin.
Adri Visser het getuig dat Jacques Gordon, met wie sy in 'n verhouding was, haar op Vrouedag, 9 Augustus, van agter gegryp en teen 'n kombuiskas gegooi het. Sy het verskeie kneusplekke opgedoen en 'n aantal weke later ontdek dat haar gewrig in die voorval gebreek is.
Hy word aangekla van ernstige aanranding.
Volgens haar getuienis het sy Gordon gekonfronteer oor bewyse wat sy ontdek het dat hy tik in die huis gebruik. Sy het glo twee glashouers in 'n vullissak ontdek wat tekens getoon het dat dit gebruik was om tik te rook.
Sy het getuig sy wou 'n foto van die een houer neem toe Gordon haar gryp en teen die kas slinger. Sy het die verhouding verbreek en uit die woonplek getrek wat hulle gedeel het.
Gordon se regsverteenwoordiger GG Hough het tydens kruisondervraging gesê sy kliënt sal in sy getuienis ontken dat hy 'n tikgebruiker is en ook dat hy haar aangerand het.
Volgens Hough sal Gordon getuig dat hy en Visser in mekaar vasgehardloop het toe hulle al twee 'n selfoon wat op 'n kas gelê het, probeer gryp en dat Visser toe teen die kas geval het. Hough het ook gesê dat mense met wie Visser telefonies voor en na die voorval gepraat het, sal getuig dat hulle nie met haar getuienis saamstem nie.
Die een getuie is Gordon se ma en die ander getuie is 'n werknemer van die onderneming waar Gordon 'n bestuurder is.
In reaksie hierop het Visser gesê dat Gordon reeds aan die begin van hulle verhouding erken het dat hy tik gebruik en dat hy dit glo gebruik omdat CAT nie in Uniondale verkrygbaar is nie. Sy het ook die hof gevra om haar selfoonrekords en foto's op haar selfoon na te gaan om haar weergawe van mense met wie sy gepraat het en die voorval waar sy teen die kas beland het, te bevestig.
Deyce het die hofverrigtinge verdaag en 'n datum vir die voortsetting van die verhoor sou Woensdag 4 Desember, bepaal word.
'Ons bring jou die nuutste Uniondale, Tuinroete nuus'