OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is Donderdag, 19 October in die Oudtshoorn-distrikshof geweier aan twee van drie vroue van Thembalethu, George, wat van winkeldiefstal, alternatiewelik, besit van gesteelde goedere, aangekla word.
Die drie beskuldigdes, Susiphe Gulwa (34), Pamela Funiselo (36) en Phehkazi Mbalo (35) is in Baron van Reedestraat in Oudtshoorn in hegtenis geneem met vermoedelik gesteelde klerasie en toiletware van Pep Stores.
Hulle regsverteenwoordiger, Rasaad Goliath, het om borgtog gevra omdat die goedere in hulle besit nie nuwe items was nie en hulle nie 'n vlugrisiko is nie.
Die staatsaanklaer, sowel as die ondersoek-beampte, het borgtog teengestaan omdat al drie beskuldigdes talle vorige veroordelings vir diefstal het.
Landdros Ntombizandile Maseti het borgtog aan Gulwa en Funiselo geweier, maar wel borgtog van R1 000 aan Mbalo toegestaan. Van haar voorwaardes is dat sy daagliks by die George-polisiestasie moet aanmeld en nie by verdere misdaad betrokke moet raak nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 17 November uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’